GEORGE NUUS - Sowat 40 stappers het die Berg en Dal-voetslaanklub se jaarlikse winterfunksie onlangs terdeë geniet.
Die funksie by die idilliese Arendsrus in Geelhoutboom, aan die voet van die Outeniquaberg, was 'n ware fees. Vooraf het so 21 stappers aan die voet van die berg 'n relatief kort staptog onderneem.
Die mooie wintersdag met 'n uitsig op die see en bergreeks het die dag nog meer spesiaal gemaak. Die klub groei steeds en die ledetal is reeds 121.
Stapper Ernest Lamprecht vertel dat mediese en ander kundiges beweer dat stap, in teenstelling met die meeste sportsoorte, en veral in die mooi inheemse woude en natuurskoon soos in die George-omgewing, ontsaglike mediese en sielkundige voordele inhou. Lamprecht, wat reeds in sy 80's is, is 'n sprekende bewys hiervan.
"Baie van ons wat die afgelope paar jare meer as 10 000 kilometers hier en elders gestap het sê onvoorwaardelik dit is waar! Ek stap nog gereeld so drie keer per week. Na so ses jaar lid van ons klub en so 2 000 kilometer per jaar, is ek nou vêr verby die 10 000 kilometer en die 'jong mense van so 60' bly my uitdaag vir Cradock, George, Tolberg en Campherskloofpieke - en nou ook Gamkaberg in die Karoo."
Mooi loop, Ernest!
Ernest Lamprecht in die wit keppie.
Die groep van 40 Berg en Dal-voetslaners tydens die Winterfunksie by Arendsrus in Geelhoutboom. Foto's: Ernest Lamprecht
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'