GEORGE NUUS - Fransie Jansen, 85-jarige inwoner van George is dalk nie so bekend soos Johan Heunis en Marco Wentzel van Springbokfaam wat hier gebore is nie, maar sy spog met 'n buitengewone prestasie.
Sy het die afgelope nege jaar 'n indrukwekkende 3 496 km gestap. Om dit in perspektief te stel, dit is gelykstaande aan vier keer Kaapstad toe en terug - soos die kraai vlieg.
Een van die vele byname wat aan Fransie Jansen toegeken word as gevolg hiervan, is Duracell Bunny, vernoem na die antropomorfiese (mens-vorm) pienk hasie met 'n battery op sy rug, wat aanhou hardloop en hardloop.
Nog 'n bynaam is Speed Queen, 'n bekende wasmasjien se handelsnaam. Fransie het so pas haar 220ste George-parkrun afgelê in 'n tyd van 52 minute. Daarby stap sy elke dag, soms twee keer, ongeveer 5 km op 'n slag straataf.
Sy is ook 'n lid van Happy Hikers wat in die week verskillende staproetes aanpak. Dit is George se kombinasie van skoonheid, buitemuurse aktiwiteite, matige klimaat en gemeenskapsgees wat Fransie in 2009 laat besluit het om hiernatoe te verhuis.
Kaalvoetkind
Fransie is in 1939 gebore en het grootgeword in 'n sinkkaia in die bos. "Ek is baie trots op my pa, hy was 'n padwerker en het baie hard gewerk. Hy het met pik en graaf help paaie bou, nog voor die tyd van stootskrapers," vertel Fransie.
As 7-jarige moes sy ver stap na 'n plaasskooltjie oor die Krokodilrivier in Lydenburg, ook bekend as Mashishing in die Mpumalanga hoëveld.
Sy onthou goed hoe sy in allerlei weer, reën, donderstorms en in die koue sonder skoene moes loop - kaalvoet om haar enigste paar skoene te spaar.
Wintermaande het Fransie en haar ouers op 'n plaas gebly. Haar ma het kos buite op 'n vuur gemaak omdat hulle nie 'n stoof gehad het nie en sy moes in 'n tas slaap. Vir Fransie was dit normaal en vir haar was 'n hoogtepunt dat sy twee krimpvarkies as troeteldiere gehad het en dat haar pa vir haar 'n fiets gekoop het toe sy hoërskool toe is.
Kom wat wil
Sy het haar pa later in sy lewe opgepas omdat hy bedlêend was, en het na sy dood in 2004 Kaapstad toe verhuis.
Daar het sy huise skoongemaak en troeteldiere opgepas vir huiseienaars wat met vakansie wou gaan. Sy was nog nooit kieskeurig oor enige werk wat na haar kant toe gekom het nie.
As Sassa-begunstigde het sy R400 per maand gekry en was sy genoodsaak om haar inkomste aan te vul. Dertig jaar later doen sy dit nog steeds.
"Ek is so bevoorreg om behuising in Harmonie in George te kon kry en is baie dankbaar vir 'n organisasie soos die ACVV wat dit moontlik maak. Ongelukkig, as ek huishuur, kos, my begrafnispolis ensovoorts betaal het, bly daar niks oor nie. So, huisoppas is die enigste manier om my inkomste aan te vul," vertel Fransie.
ACVV se Harmonie
Liezel Muller, bestuurder van die ACVV se tak in George beaam dit. Die ACVV 'n nie-winsgewende organisasie wat daarop neerkom dat hulle 'n klein subsidie van die staat kry en fondsinsamelings hou om in die behoeftes van Harmonie te voorsien asook om dienste by die dienssentrum te kan lewer soos etes.
"Harmonie is 'n selfversorgende onafhanklike inwoning vir bejaardes. Daar is nie personeel op die perseel om inwoners te versorg nie, ons het net 'n kliniek wat medikasie verskaf. Inwoners moet 100% selfversorgend wees. Sowat 80% van die inwoners is totaal afhanklik van Sassa en 20% kry Sassa en 'n klein aanvullende pensioen," vertel Liezel.
Liezel sê Fransie is een van die oudste van 62 inwoners van Harmonie, maar beslis die fiksste vir haar ouderdom. "Sy is baie gesond en is 'n goeie voorbeeld vir ander as gevolg van haar fiksheid en goeie geestesgesondheid."
Fransie verkies om alleen George-parkrun te stap, want sodoende kan sy aan die natuur dink en met die Here praat. "Dis my tyd om vir Hom dankie te sê dat Hy saam met my stap. Hy en sy engele is by my, hul beskerm my en dis hoekom ek nog nooit probleme gehad het waar ek alleen gestap het nie of waar ek huise in vreemde plekke opgepas het nie."
Wil nog baie doen
Fransie wil graag 'n 100 jaar oud word, en sy het nog groot drome. Sy is positief, opgewek en vrolik. Selfs in 2019 toe Harmonie vir ongeveer twee maande in isolasie moes wees as gevolg van die Covid-19-pandemie, het dit haar nie ondergekry nie.
Sy en 'n paar inwoners het begin om elke dag om die gebou te stap. Na 'n week was sy die enigste stapper.
Sy het ses maal per dag haar roete gestap, en het in die proses 'n voetpaadjie in die gras uitgetrap.
Haar bucket list sluit in om die blomme in Namakwaland te gaan kyk; die gorillas in Uganda of Rwanda te beleef - "Ek is mos in die bos gebore!"; weer 'n padreis na Springbok te onderneem en met vakansie te gaan in die natuur.
Sy was bevoorreg om op die Queen Mary II vanaf Durban na Kaapstad te reis danksy 'n goeie vriend wat op skepe gewerk het en gratis kaartjies gekry het om weg te gee. Fransie en haar vriend, Len, het saam baldans gedoen, en het hy haar gekies om een van sy gratis kaartjies te gee.
Fransie is ook 'n bedrewe lyndanser en het Tai Chi beoefen. Wanneer sy nie stap nie hou sy haar besig om beanies vir kankerpasiënte te brei en maak ook Eco Bricks.
Die projek word aangewend om vir minderbevoorregtes huise te bou deur nie-herwinbare plastiek te gebruik. Fransie glo daaraan om terug te gee vir haar gemeenskap en spandeer baie tyd om leë gebruikte papiertjies styf in 2-liter plastiese koeldrankbottels te stop. "As ek my bottels toets deur op dit te staan mag hulle nie induik nie," vertel Fransie.
Om die ACVV op enige manier te ondersteun, kontak die kantoor by 044 874 2030 of acvvgeorge@acvv.org.za.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’