GEORGE NUUS - Gedurende 2018/2019 het besighede in George deeglik gewys dat hulle omgee. 'n Mandeladag-projek het daartoe gelei dat verskeie besighede betrokke geraak het by Famsa, sê direkteur, Nicolette Buitendag.
Buitendag en haar span het onlangs die rolspelers bedank vir hul omgee en ondersteuning. "Hierdie tipe ondersteuning gee vir nie-winsgewende organisasies hoop en maak hulle hande sterk.
Famsa fokus op die emosionele welstand van die gemeenskap. Besighede het die mannekrag, kennis en soms produkte om hierdie organisasies te help met dit wat hulle nie kan bekostig nie, maar nodig het om 'n kwaliteit diens te lewer."
Sy sê die George-sakekamer het 'n reuserol gespeel om besighede en Famsa bymekaar te bring. "Die sakekamer het Famsa se behoeftes raakgesien en sonder skroom werk daarvan gemaak om besighede om hulp te nader."
Famsa het 'n agtertuin wat baie aandag nodig gehad het, en dit was ook die area waar kinderkliënte hulp gekry het. Buitendag sê besighede wat aan boord gekom het is Classic Paints wat hul muur helder blou geverf het.
"Vanessa Reddy het daarna haar kunstalent gebruik om emosie-prente op die muur te verf, wat kliënte help om hulle eie emosies te identifiseer. Irene van Triton Express het gesorg dat ons 'n hobbelperd kry.
"Grow Green het vir ons kompos gegee om nuwe blombeddings te maak en plante is aangeplant met die vriendelike donasie van Bargain Nursery."
Sy sê die Botaniese Tuin se bestuurder, Finn Rautenbach, het die tuine vir hulle uitgelê. En Emile Mopp van SANParke het gesorg dat hulle buite 'n netjiese houtbankie het om op te sit.
Famsa kan gekontak word vir berading rondom verhoudings, individuele probleme en traumatiese ervarings.
Volwassenes en kinders word gesien op 'n afspraakbasis.
Kontak Famsa by 044 874 5811.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'