TUINROETE NUUS - Die vier matrieks wat op die N2 naby die Maalgatebrug verongeluk het, was op matriekvakansie in Reebok tydens die voorval. Stiaan Grobler, Conrad Meiring, JG Greyling en Adrian Myburg (almal 18) is op Vrydagaand, 3 Desember, uit die Lexus waarin hulle gery het geslinger.
Die voertuig het die pad verlaat en die omstandighede van die voorval is nog nie bekend nie.
Dit is ook nie duidelik wie die Lexus bestuur het nie. Adrian het die ongeluk oorleef en is in 'n hospitaal in George vir sy beserings behandel. Hy is intussen ontslaan. Stiaan, Conrad en JG is op die toneel dood.
Ongelukstoneel
Conrad Meiring se oom en tannie, Carl en Anina Meiring, woon die afgelope agt jaar in Klein-Brakrivier. Conrad se pa, Uys Meiring, het sy broer Carl Saterdagoggend, 4 Desember, om ongeveer 03:00 met die tyding van die ongeluk gebel. Carl en sy gesin was baie geheg aan Conrad en hy het hom na die toneel op die N2 gehaas. Carl was een van die eerste mense op die toneel.
Volgens die familie het die seuns in die rigting van George gery. Carl sê hulle vermoed die bestuurder het die afrit na Groot-Brakrivier gemis en toe reguit op die snelweg aangery. Die familie vermoed die ongeluk het voor middernag plaasgevind.
Die vier vriende het reeds op Donderdag 2 Desember in Reebok met 'n ander voertuig by hulle vakansiebestemming aangekom.
JG Greyling, Stiaan Grobler en Conrad Meiring is in die motorongeluk oorlede.
In rou gedompel
Die families van die vier seuns is in rou gedompel. Carl sê die Meirings is 'n hegte familie. "Van die baie praters en baie laggers was Conrad die stil een. Hy het 'n skaam glimlag, maar altyd 'n vonkel in sy oog gehad. Desembermaande het ons almal hier in Klein-Brak bymekaargekom. Die manne het visgevang en die vroue het gekook."
Uys en Conrad het gereeld saam visgevang en die twee is deur die res van die familie as groot vissermanne beskou.
Carl sê Oukersaand is elke jaar geskenke-tyd en Kersdag was nog altyd vir die familie 'n dag van samesyn. "Conrad was mal oor wortelslaai. Ons gunsteling herinnering aan hom was toe hy een Kersfees omtrent net dit geëet het, tot ons almal se verbasing."
Die polisie op Groot-Brakrivier ondersoek 'n saak van strafbare manslag.
'n Kranslegging is op 7 Desember by Hoërskool Ben Viljoen in Limpopo vir die drie oorledenes gehou.
Kruise is op die N2 naby die Maalgate-brug vir die drie oorledenes opgerig.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'