GEORGE NUUS - Diegene wat 'n geliefde aan die dood afstaan moet deesdae begroot vir begeleiding deur verkeersvoertuie. In die verlede het verkeersvoertuie 'n begrafnisstoet begelei na die begraafplaas sonder dat daar enige kostes aan verbonde was.
Dinge het egter intussen verander. Verkeersvoertuie wat vir privaat doeleindes benut word sal 'n kliënt R300 per voertuig kos.
Vir 'n begrafnis, waar dikwels van twee verkeersvoertuie gebruik gemaak word, moet die kostes van R600 vir dié diens ingereken word.
Die verkeersvoertuie sorg dat die begrafnisstoet veilig deur die dorp ry sonder dat verkeersknope en erge ontwrigting plaasvind.
Munisipale woordvoerder, Chantel Edwards-Klose, het by navraag bevestig dat die stadsraad 'n tarief goedgekeur het vir begeleiding deur die verkeersdepartement vir enige geleentheid, insluitend begrafnisbegeleiding.
"Die meeste munisipaliteite het so 'n tarief geïmplementeer, aangesien hulle dit onregverdig ag dat belastingbetalers die koste van privaat begrafnisbegeleiding moet dek," het Edwards-Klose gesê.
'n Gesprek oor die kwessie op sosiale media het sommige inwoners laat gis oor die verkeersvoertuie wat verlede Saterdag ingespan is met die verwelkoming van die Olimpiese atleet, Bianca Buitendag.
Edwards-Klose het bevestig dat die organiseerder van die geleentheid inderdaad vir die begeleiding betaal het.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'