GEORGE NUUS - Toe die George Erfenistrust onlangs vir die eerste keer in maande weer vergader het, was een van die sitplekke leeg. Joh Groenewald, wat een van die staatmakers was, is op 23 April aan kanker oorlede.
Groenewald was die dryfkrag agter talle van die instansie se projekte. Hy was ook baie bekend in bewaringskringe.
Benewens die lede, is die geleentheid ook bygewoon deur Muriel Hau-Yoon, sy lewensmaat van 36 jaar.
Tydens die vergadering is hulde aan hom gebring. Nanno Evenhuis, 'n lid van die trust, wat Groenewald omtrent 15 jaar geken het, het gesê in 'n stadium was Groenewald in 'n motorongeluk betrokke wat sy leefwyse verander het.
Hy was diep godsdienstig en 'n interessante mens met kennis oor 'n wye verskeidenheid onderwerpe soos onder meer filatelie, ou geboue en omtrent enigiets wat met geskiedenis te doen gehad het.
Joh Groenewald
Evenhuis het Groenewald beskryf as 'n warmhartige mens wat baie vir die trust beteken het. Hy was goedhartig, 'n ware heer, 'n harde werker en word as vriend gemis.
As dit Hau-Yoon se goed-keuring wegdra en geleenthede duik op, sal sy naam gebruik word in erkenningsprojekte van die trust.
Hau-Yoon het na die vergadering gesê die trust het Groenewald na aan die hart gelê. "Ek was diep geraak deur die geleentheid. Die trust is welkom om sy naam te koppel aan van hul projekte."
Henry Paine, voorsitter van die George Erfenistrust, het gesê daar is wel die afgelope tyd per e-pos met lede gekommunikeer, maar dis moeilik vir die werk van die trust as daar nie van aangesig tot aangesig ontmoet word nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'