GEORGE NUUS - Die George-raad het verlede Donderdag, 14 April, tydens 'n geslote vergadering die groen lig gegee vir 'n vroeë skeidings-pakket aan die direkteur van gemeenskaps-veiligheid, Steven Erasmus.
Erasmus se kontrak sou later vanjaar tot 'n einde kom, maar hy het reeds sy kantoor ontruim.
Op dieselfde dag verlede week, het George Herald se voorbladberig openbaar gemaak dat 'n groot deel van die munisipale vloot reeds maande en in sommige gevalle jare onklaar en gestrand staan by die plaaslike diensverskaffer, Tata Garden Route. Die voertuie sorteer onder die department gemeenskapsveiligheid.
Munisipale woordvoerder, Chantèl Edwards, het bevestig dat Erasmus die diens van die munisipaliteit verlaat met 'n gesamentlike ooreenkoms.
Ses trokke wat deur die munisipaliteit geskrap moet word, staan reeds vir langer as vyf jaar by Tata sonder dat die nodige, basiese papierwerk afgehandel word deur die verantwoordelike amptenary. Om 'n jaarlikse lisensie vir elke trok wat staan en nie geskrap is nie uit te reik, kos die belastingbetaler - per trok, per jaar - minstens R20 000.
VF Plus-raadslid adv. Gert van Niekerk het by navraag gesê hy het 'n lang pad saam met Erasmus gestap en "gun hom die welverdiende rus".
"Die direkteurspos van daardie direktoraat is geweldig stresvol. Ons wens hom die beste toe."
Verwysend na die situasie met die munisipale vloot, het Van Niekerk benadruk dat daar geen kriminele klagtes teen Erasmus is nie.
PBI-raadslid Virgill Gericke, het egter gevra vir 'n ondersoek teen Erasmus en dat die DA-koalisie aanspreeklikheid aanvaar.
Die munisipaliteit het vroeër bevestig dat 'n ondersoek wel sal plaasvind. Van Niekerk het egter benadruk dat die probleem met die munisipale vloot reeds 'n lang pad kom.
"Om dit op die skouers van die nuwe koalisie [DA, VF Plus en ACDP] te pak dui op opportunisme en onkunde. Al die raadslede weet daardie voertuie staan al vir maande daar en is deur ons vanuit die vorige regime geërf.
"Na die verkiesing verlede jaar in November werk ons onverpoos om vele probleme aan te spreek," het Van Niekerk gesê.
PBI kap terug
Die vorige munisipale bestuurder Trevor Botha, en die voormalige burgemeester Melvin Naik, is reeds weg in die tweede helfte van 2020.
Gericke het gesê sy party dring aan dat kriminele klagtes teen alle betrokke amptenare gelê word en dat die DA, VF Plus en ACDP volle verantwoordelikheid moet aanvaar vir die gemors waarin die munisipale vloot tans is. "Die vertrek van die direkteur verander nie die feite van die saak nie," het Gericke gesê.
"Die ACDP beklee al vir jare 'n posisie op die munisipale openbare rekeninge komitee (MPAC). Dit is ook absurd om die skandaal aan die vorige bestel toe te skryf, aangesien van die rolspelers - waaronder die huidige burgemeester - reeds aan bewind was."
ACDP-raadslid Johan du Toit, voorsitter van MPAC, het by navraag gesê hulle is besig om die saak in diepte te ondersoek, om uit te vind wie verantwoordelik was. Ook wie nagelaat het om rekwisisies uit te reik. "Ons maak daadwerklik werk hiervan," het Du Toit gesê.
Ondersoek teen Paulse
Tydens dieselfde raadsvergadering verlede Donderdag, is nog kwessies van belang hanteer.
Edwards het by navraag gesê die bewerings teen die waarnemende munisipale bestuurder, Michele Gratz, en direkteur van gemeenskapsdienste, Allen Paulse, met betrekking tot onreëlmatige aanstellings, is van die hand gewys. Dit volg na Good-raadslid, Donovan Saptoe, aantygings oor onregmatige aanstellings teenoor Gratz en Paulse gemaak het.
Saptoe het ook 'n klag by die polisie teen Paulse gelê oor 'n beweerde stemnota waarin hy en sy vrou glo deur Paulse gedreig is. Edwards het bevestig dat daar besluit is om dié aantyging teen Paulse, met betrekking tot beweerde dreigemente teen raadslid Saptoe, te ondersoek. Volgens 'n betroubare bron het Saptoe se versoek dat die raad Paulse skors, gefaal. Paulse het vantevore gereageer op Saptoe se aantyging en gesê hy het nog nooit direk enige doodsdreigemente teen Saptoe of sy vrou gemaak nie. (Lees meer oor dié storie aanlyn by www.georgeherald.com)
Gericke van die PBI is egter ontevrede oor die manier waarop die ondersoek teen Paulse hanteer word. "In gevolge die regulasies vir tugondersoeke moet die geïmpliseerde eers 'n geleentheid kry om sy kant van die saak te stel. Dit moet binne sewe dae geskied. Dan moet die raad besluit of daar meriete is vir 'n ondersoek. In hierdie geval is die aanbeveling deur die burgemeester dat 'n ondersoek direk moet geskied, en dit is teenstrydig met die regulasies en dus 'n onwettige besluit. Dit is toe te skryf aan swak regsadvies en politieke druk. Ons glo dis bedoel om die proses te ontspoor."
Volgens Gericke is die PBI in die proses om die regspraktisynsraad (Legal Practitioners Council) vir 'n ondersoek in die verband te vra.
Vorige artikel: Erasmus tree uit as Direkteur van Gemeenskapsveiligheid
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'