GEORGE NUUS - Meer as 400 navrae is reeds by die AHi Wes-Kaap se inbelsentrum ontvang sedert dit verlede maand in bedryf gestel is. Die inbelsentrum is op 18 Mei bekendgestel tydens die amptelike ingebruikneming van die AHi Wes-Kaap se hoofkantoor in George.
Tydens die geleentheid is 'n formele ooreenkoms vir finansieringshulp deur TRIAS, 'n internasionale ontwikkelings-organisasie wat bande het met die Vlaamse regering in België en die AHi Wes-Kaap, onderteken.
Opleiding vir voornemende entrepreneurs begin ook aanstaande week in alle erns. Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi Wes-Kaap, sê tot op 8 Junie is altesaam 423 direkte navrae en boodskappe op WhatsApp ontvang.
Die oorgrote meerderheid van die navrae het gehandel oor besigheidsopleiding vir sakeondernemings. Die navrae was van oral in die Wes-Kaap.
Die meerderheid navrae was uit die Eden-distrik, wat plekke soos Riversdal, Mosselbaai, George, Knysna, Plettenbergbaai, Uniondale, Oudtshoorn, Ladismith en Calitzdorp, insluit.
Die tweede hoeveelheid navrae het verband gehou met hoe om ‘n sakeonderneming te begin. Dit is soos byvoorbeeld toegang tot finansiering, registrasie van ‘n sakeonderneming en mentorskappe.
Volgens Cilliers kan die hoeveelheid navrae uit die Eden-gebied waarskynlik direk toegeskryf word aan ‘n voetsoolveldtog wat na 24 Mei gehou is in die gebied. Verskeie dorpe is besoek en EDENfm, ‘n plaaslike radiostasie, het regstreeks van die dorpe uitgesaai. Mense kon ook inbel en hul daaglikse uitdagings in die sakeomgewing en veral kleinsake-ondernemings, bespreek. Die doel daarvan was om inligting deur te gee aan mense wat hul eie sakeondernemings wil begin.
Cilliers sê fondse is tot einde Desember beskikbaar om die AHi Wes-Kaap by te staan. Gesprekke het reeds begin om dit daarna, vir 2019, te verleng.
Cilliers sal België waarskynlik later vanjaar besoek om te probeer verseker dat fondse vir 2019 beskikbaar gestel word. Hy is baie optimisties dat die fondse beskikbaar gestel sal word.
Hy benadruk die AHi Wes-Kaap is ‘n outonome organisasie en is op koers in sy nuwe era. Daar word gehoop dat in die nuwe era van die AHi Wes-Kaap, ‘n groot hupstoot gegee sal word aan entrepreneurs-ontwikkeling.
Volgens Cilliers is die doel is om nuwe geleenthede te skep vir kleinsake-ondernemings asook bestaande ondernemings te help met groei. “Ons wil dit doen deur die ontwikkeling en uitbouing van kleinsake-geleenthede,” sê Cilliers. Voorts om ‘n bydrae te lewer vir die bemagtiging en skepping van nuwe sakekamers.
Benewens die inbelsentrum is verskeie ander projekte reeds aan die gang en sal verder uitgebou word in die volgende 6 maande.
Dit sluit in:
- Opleiding. Dit begin alle erns van aanstaande week (Julie) regoor die Wes-Kaap. Sowat 600 voornemende entrepreneurs sal regoor die provinsie opgelei word.
Entrepreneurs sal opleiding ontvang oor byvoorbeeld hoe om ‘n besigheidsmodel en ‘n besigheidsplan op te stel. Daarna sal ‘n keuringsproses plaasvind. Die 100 suksesvolle kandidate sal betrek word by ‘n opvolg-opleidingsgeleentheid in Augustus/September. Dit sal oor 5 dae strek. - Kleinsake-ondernemingsberade. Twee sal gehou word: Een in Kaapstad en die ander een in die Eden-gebied. (Die plek in Eden sal later aangekondig word).
Die datums vir die berade sal later bekend gemaak word. Een van die hooffokuspunte sal wees om te kyk hoe klein sakeondernemings werk kan skep. - Mentorskappe. Van Junie tot Desember word verskeie mentorskap-geleenthede gehou. Voornemende entrepreneurs kan aansoek doen om hulp en leiding van kundiges. Cilliers doen ‘n beroep op opleidingsfasiliteerders en mense wat bereid is om as mentors te dien om met die AHi Wes-Kaap kontak te maak.
- Kundigheidspanele. Altesaam vier word gevestig.
-Advies/Navorsingspaneel. Afgetrede kundiges en tersiêre instellings sal help met navorsing en die beskikbaarstelling van kundigheid.
-Mentors/advies-paneel. Dit bestaan uit lede van AHi sakekamers in die Wes-Kaap.
- Opleidingspaneel. Kundiges sal help met opleiding.
-Diensverskaffers-paneel. Kundiges en instansies soos byvoorbeeld finansieringsinstellings, regsdienste en inligtingstegnologie.
Cilliers nooi mense om betrokke te raak. Belangstellendes kan kontak:
• Die inbelsentrum: 086 999 0209;
• WhatsApp-boodskap stuur aan 063 755 2351 of
• Stuur e-pos service@ahiwp.org.za
(Verklaring opgestel en uitgereik deur Eugene Gunning namens dr. Cilliers. Vir meer besonderhede of navrae kontak gerus: Tel: 044 873 5240; of stuur e-pos: info@ahiwp.org.za of besoek webtuiste: www.ahiwp.org.za
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'