Update
GEORGE NUUS - Hy was sy ouers se enigste seun, hulle was trots op hom en volgens die medelye wat op Facebook instroom, was Heinrich Bothma (27) báie gewild en geliefd onder sy vriende.
Maar die jong man se lewe is tragies kortgeknip toe hy verlede Vrydagmiddag, 16 Oktober, op die Outeniquapas oorlede is.
Bothma en een van sy beste vriende, Stephan van der Westhuysen, was onderweg om koffie by een van die uitkykpunte op die pas te gaan drink toe die ongeluk omstreeks 15:00 plaasgevind het.
"Ons was net oor die berg - by die gedeelte waar die afdraande na Waboomskraal begin. Hy het sowat 'n kilometer voor my gery, so ek weet nie presies wat gebeur het nie, maar ons vermoed hy het om die draai beheer oor sy motorfiets verloor," vertel Van der Westhuysen.
Heinrich Bothma (links) saam met een van sy beste vriende, Stephan van der Westhuysen. Van der Westhuysen het kort agter Bothma gery toe die ongeluk plaasgevind het.
Bothma (blou motorfiets) saam met van sy vriende, Juan Theron (links), Bradley Endres, Ruben Mortlock en Wayne Labuschagne.
Bothma is glo op slag dood toe hy deur 'n aankomende VW Polo getref is.
"Dit het amper gelyk asof hy sy bike eenkant toe gestoot het, want dit het teen die muur gelê. Hy het in die aankomende baan beland en die voertuig het hom getref. Ek gaan hom baie mis. Ons ken mekaar al 14 jaar," vertel Van der Westhuizen.
Bothma se ma, Nita, vertel dat sy altyd bekommerd was wanneer hy gaan motorfietsry het. "Ek het hom elke keer in my gebede opgedra. Hy was vreeslik gewild onder sy vriende - oud en jonk - ook onder sy biker vriende wat sy liefde vir motorfietse gedeel het.
"Ons bedank almal vir die ongelooflike gebaar om 'n kruis by die ongelukstoneel te gaan oprig. Those who died yesterday, had plans for tomorrow," het sy ma tydens 'n onderhoud aan George Herald gesê.
'n Groot groep motorfietsryers, vriende en familie van Bothma wat Sondagmiddag vir hom 'n kruis naby die ongelukstoneel opgerig het.
'n Gedenkdiens vir Bothma sal eerskomende Saterdag by die Fundamentele Evangeliese Gemeente gehou word.
Motorfietsliefhebbers en vriende en familie van Bothma het Sondagmiddag, 18 Oktober, 'n kruis by die ongelukstoneel opgerig.
Vorige artikel: Motorcyclist killed in accident
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'