GEORGE NUUS - As daar een ding is wat Emsie Martin se loopbaan by Group Editors kenmerk, is dit dat sy nooit bang was om haar hand vir enigiets op te steek nie.
Van ontvangsdame tot subredakteur, proefleser, skrywer, redakteur en selfs bladuitleg. Sy het oor meer as twee dekades omtrent elke denkbare rol in 'n nuuskantoor vervul.
Nou, op 65, maak sy haar laaste punt. Ná 22 jaar sluit Martin haar hoofstuk aan die einde van September by Group Editors af.
Martin het in 2004 as ontvangsdame by Suid-Kaap Forum in Riversdal begin werk. Dit was 'n klein personeelkorps waar almal moes inspring. Dit het beteken dat 'n ontvangsdame soms ook geleenthede moes bywoon en daaroor vir die koerant moes berig.
Sy het advertensies hanteer, administra-tiewe werk gedoen, stories en rubrieke geskryf en proefleeswerk gedoen. Sy het selfs in die dae voor moderne digitale uitleg soms bladsye met die hand op papier uitgelê. Haar rubrieke het in 2008 onder die toptien by die Sanlam-toekennings geëindig.
In April 2010 is sy na George Herald oorgeplaas as subredakteur. In dié dae het die Herald nog tot 112 bladsye per week gehad en was sy aanvanklik die enigste subredakteur vir beide Afrikaans en Engels.
Later het sy hoofsaaklik die Afrikaanse kopie vir George Herald, Oudtshoorn Courant, Suid-Kaap Forum en ander Group Editors-publikasies versorg.
Sy was ook redakteur van die destydse Property Guide en AgriEco en het ook verskeie stories vir die Motoring Guide geskryf. Wanneer die nood gedruk het, het sy selfs 'n kamera gegryp en voorbladfoto's gaan neem.
Buite haar gewone werk het Emsie ook as vryskutskrywer vir onder meer Vrouekeur en Solidariteit gewerk. Sy het ook reeds vier boeke gepubliseer.
Vir dié joernalis was sy een van die mense wat my gehelp het om my voete te vind toe ek byna 12 jaar gelede by Group Editors aangesluit het. Destyds het nie een van my kollegas nog kleinkinders gehad nie - en nou, sjoe, hoe vlieg die tyd - is Emsie 'n ouma van drie.
"Sy laat nie net 'n leë stoel in die nuuskan-toor nie. Sy laat 'n leemte en ek gaan haar geselsies en sin vir humor mis."
Emsie en haar man James, is die ouers van vier en die grootouers van drie, en hoewel sy nou amptelik aftree, beteken dit beslis nie dat sy gaan stil sit nie.
"Ek wil weer tyd maak vir vryskutwerk, teken en skilder en dalk selfs 'n nuwe boek aanpak. Ek het ook nou meer tyd om saam met my ouers, my man, my kinders en kleinkinders deur te bring," sê Martin.
En dan is daar haar nuwe liefde: hardloop.
Emsie het eers op die ouderdom van 63 met die parkrun begin en sedertdien aan talle wedlope deelgeneem.
"Ek gaan nou beslis baie tyd hê om vir toekomstige wedlope te oefen. Ek gaan my kollegas en koerantwese mis, maar dit is ook tyd vir alles wat agterweë gelaat is."
Haar aftrede beteken egter nie dat sy haar George Herald-familie vergeet nie.
"Ek sal nie my kollegas en spesifiek my 'kleinkinders' by George Herald, Leroy Lewis, Ashwynne Thorne, Vrenika Windwaai, Lucinda Eksteen en Marilee le Grange, vergeet nie," sê sy.
Ons gaan jou ook nie vergeet nie, Emsie.
Dankie vir al die jare, al die stories, al die rooi pen, al die raad, al die hulp en al die kere wat jy ingespring het wanneer dit nodig was.
En dankie dat jy, sonder dat jy dit waarskynlik besef het, vir baie van ons gewys het wat dit beteken om jou werk met hart, humor en toewyding te doen.
Geniet die volgende hoofstuk. Jy het dit verdien.
Martin (tweede van regs) saam met haar 'werkskleinkinders': Leroy Lewis, Lucinda Eksteen, Marilee le Grange, Vrenica Windwaai en Ashwynne Thorne.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’