GEORGE NUUS - Die Emmaüs Sentrum vir Volwassenes met Spesiale Behoeftes doen 'n dringende beroep op groter gemeenskapsbetrokkenheid om hul belangrike werk volhoubaar voort te sit en hul visie van optimale beskerming en sorg vir volwassenes met gestremdhede te verwesenlik.
Volgens Elsabé Badenhorst, hoof van die sentrum, is Emmaüs 'n gemeenskapsprojek wat 40 jaar gelede met die ondersteuning van die George-munisipaliteit tot stand gekom het.
Hoewel die sentrum vroeër staatsubsidie ontvang het, het hulle, soos duisende ander niewinsgewende organisasies, 'n paar jaar gelede amper die helfte van hul inkomste verloor toe dié subsidie gesny is.
"Ons het verskeie projekte waarmee ons voortdurend geld insamel, maar dit is nie genoeg om al ons behoeftes te dek nie," sê Badenhorst.
Sy beklemtoon dat die sentrum nie sonder die steun van die gemeenskap kan voortbestaan nie.
"Daar word ongelooflik baie vir kinders met spesiale behoeftes gedoen, maar min mense dink aan wat van hulle word wanneer hulle nie meer op skool is nie. Baie van hulle het steeds toesig, begeleiding en 'n veilige omgewing nodig. Dis waar Emmaüs inkom. Ons bied versorging, struktuur en betekenisvolle aktiwiteite vir volwassenes tussen die ouderdom van 18 en 60 jaar."
Volgens haar is die persentasie persone met spesiale behoeftes wat onafhanklik in die arbeidsmark opgeneem kan word, baie klein.
"Hulle beskik oor baie vermoëns, maar het ondersteuning en toesig nodig. Emmaüs help om daardie leemte te vul. Hierdie mense bly deel van ons gemeenskap se verantwoordelikheid en ons s'n."
Benewens finansiële ondersteuning het die sentrum ook 'n behoefte aan mense wat hul tyd en kundigheid beskikbaar kan stel.
Pragtige en handige handgemaakte ware is by die sentrum te koop wat deur die inwoners self vervaardig word. Foto verskaf
"Ons benodig professionele persone met finansiële ondervinding, ontwikkelaars, prokureurs en ander kundiges om op ons bestuur te dien. Selfs ma's wat 'n uur of twee beskikbaar het terwyl hulle vir hul kinders wag, kan kom help en ons personeel se hande ligter maak sodat ons meer vir die werkers kan doen." Die werkers by Emmaüs restoureer meubels en vervaardig handgemaakte artikels wat te koop is.
As deel van hul 40ste bestaansjaar bied die sentrum vanjaar verskeie fondsinsame-lingsgeleenthede aan, waaronder 'n winter-mark, gholfdag, bingo-aand, 'n spesiale oggendprogram vir vroue asook 'n basaar en Kersmark in Desember.
"Ons vra die publiek se steun vir hierdie projekte en nooi mense om ons te kom besoek en self te kyk waar hulle dalk met hul vaardighede 'n handjie kan bysit om ons te help in ons groot taak," sê Badenhorst.
nDie sentrum is geleë by Memoriamstraat 6 en kan by 044 873 4196 gekontak word.
Emmaüs se nuwe naambord. Foto verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’