GEORGE NUUS - Georgiet Emile Lomberg het op Dinsdag 19 Maart na Nederland vertrek vir 'n konferensie in Nederland waar hy Suid-Afrika namens Bybelwoord gaan verteenwoordig.
Bybelwoord is 'n Afrikaanse been van GlobalRize, 'n organisasie wat mense deur die internet wil bereik met die Woord van God.
Dit is hul jaarlikse konferensie wat in 't Harde aangebied word en sal fokus op die gratis Bybelkursusse wat aangebied word.
"Die kursusse help mense om die Bybel beter te leer ken. Ek het in 2021 van Bybelwoord gehoor. Ek is deur Bybelwoord se leier, Alicia Coetsee, genader en het toe deel geword van die span en die kursusse voltooi. Ek het in 2022 as mentor begin optree," sê Lomberg.
Benewens die internetkursusse, maak Bybelwoord ook gebruik van platforms soos Facebook en Instagram.
Lomberg is een van ses mentors in Suid-Afrika. Die ander vyf is almal vroue. 'n Totaal van ongeveer 70 mentors vanoor die wêreld word by die konferensie verwag. Een verteenwoordiger van elke deelnemende land sal die konferensie bywoon.
"Dit is 'n sosiale geleentheid, maar elke land gaan ook terugvoering gee oor die uitdagings wat hul studente ondervind. Ons gaan ook verskeie werkswinkels bywoon," sê Lomberg.
Bybelwoord het sy oorsprong in Nederland waar die hoofkantoor van GlobalRize ook geleë is. Daar is verskeie kursusse in Engels waarvoor 'n mens kan inskryf, maar ook twee Afrikaanse kursusse. Lomberg sê meer kursusse is op pad.
"'n Mens skryf in op die internet en word dan aan 'n mentor toegewys. Mentors is vrywilligers en die kursusse is gratis. Dis 'n wonderlike ervaring om deel van só 'n organisasie te kan wees.
"Almal in die Afrikaanse span gebruik hul talente en dien vrywillig. Ons plasings op Facebook is altyd uit die Woord van God en ons hoop dit kan meer en meer mense bereik. Mense kan inskryf by www.bybelwoord.net."
Lomberg is getroud en het 'n dogter (10) en seun (3). Hy werk voltyds as 'n senior menslikehulpbronnebeampte, dien as diaken by VGK Pacaltsdorp-gemeente, studeer tans deur Unisa vir sy honneursgraad in industriële sielkunde. In sy vrye tyd spandeer hy tyd met sy familie en is betrokke by die kerk se aktiwiteite.
Emile is 'n mentor wat die Bybelkursusse van Bybelwoord aanbied.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’