GEORGE NUUS - George-munisipaliteit word voortdurend gekonfronteer met enorme uitdagings rakende die elektrifisering van nuwe goedgekeurde behuisingsprojekte wat deur die Wes-Kaapse provinsiale departement van menslike nederset-tings geïmplementeer word.
Die finansiële verantwoordelikheid vir die verskaffing van dienste soos water en elektrisiteit berus by George-munisipaliteit, wat op hul beurt van subsidies afhanklik is vir die diensverskaffing. Tans is daar nie voldoende toelae vir die bestaande goedgekeurde behuisingsprojekte nie.
Groei
Die geweldige groei in onwettige informele behuising in gebiede soos Allbrick en omliggende gebiede van Thembalethu, sowel as Moeggeploeg en Moeggehuur in Pacaltsdorp, het die tekort aan finansiering verhoog, sowel as skade aan die algehele elektriese infrastruktuur as gevolg van voort-durende onwettige verbindings.
Die elektrotegniese departement het in 'n poging om die verskaffing van elektrisiteitsdienste aan informele nedersettings te formaliseer, die oprigting van 'n multi-dissiplinêre taakspan aanbeveel om die minimum kriteria op te stel waaraan in die toekoms voldoen sal word vir die elektrifisering van informele gebiede.
Moeggehuur
Die Moeggehuur-elektrifisering vorm deel van die drie korttermyn, dringende elektrifiseringsprojekte wat dienooreenkomstig deur die raad (Maart 2021) geprioritiseer is in terme van die beskikbare begroting van R800 000 vir die boekjaar 2020/21.
Moeggehuur, of Erf 2732 Bluegumstraat in Pacaltsdorp, is 'n onwettige grondbesetting wat in Februarie 2019 plaasgevind het. Altesaam 58 huishoudings is geëlektrifiseer met koste per struktuur tussen R10 000 tot R13 000.
George-burgemeester Leon van Wyk, het die perseel verlede week besoek om met die konsultante, aangestelde kontrakteurs, sowel as die werknemers van die elektrotegniese direktoraat te vergader om die vordering met die projek te verstaan en om die uitdagings wat ondervind word te hersien en om die toestand van die geïnstalleerde netwerk te bekyk.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'