Mcguffog praat namens die voorsitter van dié Artikel 21-maatskappy, Richard Mason, wat afhanklik is van skenkings van die gemeenskap. Mason beweer die George Herald is besig met 'n offensief teen hom as voorsitter van beide die direksie en bestuur van El Shaddai. Hy het hom onttrek van enige kommunikasie met die koerant.
Ook is beloftes van 'n oopdeurbeleid en bywoning deur die media tydens die aanhoor van ten minste 12 klagtes van El Shaddai-inwoners, nie deur Mason nagekom nie. Die George Herald is in besit van die skriftelike klagtes.
Die redakteur van die George Herald, Mandi Botha, het in verlede week se uitgawe van die koerant die versekering gegee dat die koerant nie besig is met 'n offensief teen Mason óf El Shaddai nie. Sy het die afgelope week weereens beklemtoon dat die George Herald bloot al die kante van 'n saak wat onder die koerant se aandag gebring is, deur persone wat by 'n welsynsprojek betrokke is, of was, wil stel.
Mason het in sy laaste gesprek met die George Herald gesê: "Ons (die direksie en bestuur) het niks om weg te steek nie." Kort ná daar verneem is dat die klagtes aangehoor is sonder dat Mason sy belofte nagekom het om die media uit te nooi na die sitting, het Mcguffog gesê: "Ons is gelukkig, en 'n paar klein veranderinkies sal by El Shaddai plaasvind."
Mcguffog het ook onderneem om vrae oor die klagtes per e-pos te beantwoord. Hy het egter Dinsdagoggend aan die George Herald gesê: "Ons voel ons het die aangeleentheid aangespreek. Dit is 'n interne aangeleentheid. Ons sal die plek bestuur soos ons voel dit is die beste. Ek vertel nie vir julle hoe om julle besigheid te bestuur nie."
Op 'n aanmerking dat El Shaddai Recovery Mission met skenkings werk en 'n Artikel 21-maatskappy is, wat verantwoording moet doen aan die skenkers oor hoe hulle die skenkings aanwend, het Mcguffog gesê: "As enige iemand iets wil weet of klagtes het, kan hulle dit op skrif stel en pos na Posbus 10448, George, 6530."
Die El Shaddai-stilswye laat nou 'n vraagteken hang oor onbeantwoorde stellings wat twee weke gelede deur die George Herald aan Mcguffog voorgehou is. Onder die stellings is 'n bewering van 'n vrou wat geld aan El Shaddai wou skenk en toe, volgens die bron, deur Mason gevra is om dit in sy persoonlike rekening in te betaal. Dit sou plaasvind ten spyte van die feit dat El Shaddai as 'n Artikel 21-maatskappy geregistreer is, onder El Shaddai Mission trading as El Shaddai Life Recovery Mission, Section 21: 2009/010704/08, NPO 077-955-NPO, met sy eie rekening waar finansiële skenkings inbetaal moet word.
Die 'klein veranderinge' wat aangebring is by El Shaddai, het Mcguffog ook nou besluit om nie bekend te maak nie.
Inhoud van die 12 klagtes
Onder die klagtes wat skriftelik ingedien en volgens Mcguffog aangehoor is, is van die bewerings dat:
- Mason 'n inwoner se krag afgesit het omdat sy twee weke agter was met haar huur;
- dat Mason 'n negejarige kind vir die gebruik van dagga laat toets het;
- dat van die skenkings aan die inwoners van El Shaddai aan hulle verkoop is uit 'n winkeltjie;
- dat Mason vir een van die inwoners se seun en 'n vriend van die seun sou gesê het dat hulle 'moffies' is;
- dat daar aan inwoners gesê word hulle het duiwels in hulle as hulle siek word;
- dat Mason iemand sou rondruk in die kerk;
- dat Mason aan 'n seun wat die heel dag op die plaas gewerk het, 'n stort geweier het en sou gesê het: "Julle ken my net wanneer julle verleë is."
ARTIKEL: CHRISTO VERMAAK, GEORGE HERALD-JOERNALIS