GEORGE NUUS - 'n Bejaarde egpaar Minne (80) en Lia Horneman (75) is laat Dinsdagaand in hul huis in Arbourweg, Glen Barrie, aangeval en van verskeie besittings, waaronder hul motor, beroof.
Die voorval het omstreeks 20:30 plaasgevind. Die egpaar was ten tyde van die voorval alleen tuis en besig om televisie te kyk.
Die twee booswigte het blykbaar toegang tot hul erf verkry deur oor 'n buurman se muur te spring.
Minne het Woensdagmiddag aan George Herald gesê die twee mans was gewapen met 'n mes en 'n skroewedraaier. "Hulle het ons beveel om kalm en rustig te wees anders gaan hulle ons seermaak. Hulle het ons vasgebind."
Volgens Minne was hul gesigte bedek.
Die booswigte het kort voor 22:00 met die egpaar se motor en verskeie besittings soos rekenaartoerusting gevlug. Hulle het ook die egpaar beveel om die PIN's van bankrekeninge te verskaf. Hulle het toegang daartoe verkry en meer as R20 000 so gesteel.
In 'n stadium het Lia daarin geslaag om haarself los te wikkel en sy het hulp by die bure gaan soek.
Die polisie was binne minute op die toneel. Die egpaar het net lof vir die polisie se flinke optrede gehad.
Die egpaar se motor is laat gisteraand teruggevind met die sleutels steeds daarin.
Hulle kom oorspronklik van Nederland. Minne het 1948 na Suid-Afrika gekom en Lia in 1968. "Ons is nog in 'n toestand van skok. Die trauma van die voorval sal eers later inskop," het Minne gesê.
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het by navraag die voorval bevestig en gesê hulle ondersoek 'n saak van huisroof.
"Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie."
Enigiemand met inligting kan die ondersoekbeampte, sers. John Boesak skakel by 044 803 4715/4764 of 072 942 0042.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'