Daar is verwys na intimidasie, openbare dronkenskap, diefstal, messtekery en haweloses wat op stoepe en op straat ontlas en urineer. Diegene wat hulle glo skuldig maak hieraan is glo meestal verslaafdes wat hulle self voordoen as karwagte om geld in te samel om hulle dranklus te bevredig.
Talle sprekers was sterk gekant teen die munisipaliteit se voorstel dat motoriste parkeergeld in die middedorp betaal en het daarop gewys dat parkering nie die probleem is nie, maar dronk 'karwagte' wat kliënte die skrik op die lyf jaag.
George-raadslid van gemeenskapsveiligheid, Iona Kritzinger het die beoogde parkeerstelsel verduidelik en gesê dit is daarop gemik om ongewenste elemente uit die middedorp te hou en nie om geld uit motoriste te maak nie.
"Die bestaande goeie karwagte sal formeel deur 'n onafhanklike maatskappy aangestel word om parkering met mobiele handparkeermeters te reguleer. Die wagte sal sekerheidsopleiding ontvang en so die skorriemorries uit die dorp verdryf. Die informele lapswaaiers wat net daar is om te bedel en te baklei sal nie meer daarby baat vind om in die dorp rond te hang nie."
Sy het gesê die raad sal moet besluit oor 'n gepaste tarief. "Die munisipaliteit het nie die kapasiteit om die stelsel te implementeer nie." Kritzinger het voorts gesê die parkeertarief sal ook parkeerplekke oop maak vir kliënte. "Baie van die parkeerruimte word opgeneem deur mense wat in die dorp werk en maandkaartjies sal op ander beskikbare ruimtes soos Doneraile-plein verkoop word."
Die gehoor was egter glad nie te vinde vir die voorstel nie. Kobus Steyn, reeds 20 jaar 'n inwoner van George, het gesê daar is 'n ordonnansie wat parkeermeters in George verbied. "Dit is onwettig en julle wil nou weer hê die vuisvoos inwoners moet opdok. Hoekom moet daar karwagte wees? My assuransie pas my kar op. As die wetstoepassers hulle werk doen is daar nie 'n probleem nie. Almal sal Mall toe gaan."
Volgens Kritzinger kon hulle geen ordonnansie teen parkeermeters opspoor nie, terwyl die voorsitter van die middedorpvereniging, Bes Bezuidenhout gesê het hoewel niemand lus het vir betaal nie, 'n oplossing dringend gesoek moet word. "'n Voordeel van die parkeermeters is dat wanneer 'n voertuig se registrasienommer ingepons word, die kontrolekamer byvoorbeeld onmiddellik sal kan sien of die voertuig gesteel is of uitstaande boetes het."
Mnr. M. Soonies van wetstoepassing het gesê hulle hande is afgekap. "Ons kan nie iemand in die tronk gooi omdat hy haweloos is nie. Ons mag ook nie op privaatgrond optree nie. Wat dronk op straat betref is daar 'n sekere vrou, Katjie, wat ons tot drie keer per dag polisie toe neem. Sy word opgesluit tot sy nugter is en 'n paar uur later is sy weer op straat."
Die gehoor was dit eens dat hulle nie die goeie karwagte van 'n inkomste wil beroof nie, maar dat die publiek opgevoed moet word om nie aan dronk mense geld te gee nie. Kritzinger het saamgestem en gesê mense moet hand in eie boesem steek.
"As gevolg van 'n geldtekort het wetstoepassing nie in pas met George gegroei nie. Ons beplan 'n sentrum vir haweloses langs die Coca-Cola depot naby Sandkraalweg en saam met die nuwe openbare vervoerstelsel in George sal veiligheidskameras op strategiese plekke aangebring word. Die nuwe moniteringskamer is ook byna gereed. Dit behoort 'n groot verskil te maak." Kritzinger het onderneem om die aangeleentheid te neem na die stedelike hernuwingskomitee (sy is die voorsitter) en alle belanghebbendes by die soeke na 'n bevredigende oplossing te betrek.
*At a public participation meeting on Tuesday various concerned citizens voiced their opposition concerning the proposed mobile parking meters. They said parking is not the problem, but vagrants and drunks that harrass those who shop and work in town.
.jpg)
Die raadslid van gemeenskapsveiligheid, Iona Kritzinger en die direkteur van gemeenskapsveiligheid, Barend Nelson, is met vrae gepeper.
.jpg)
Karwag Pieter George het gevra vir “’n bietjie respek”.
ARTIKEL EN FOTO: ILSE SCHOORNAAD, GEORGE HERALD-REDAKTEUR