Linde was een van die sprekers by Outeniqua Dames Aktueel se laaste vergadering waar die tema 'My drome' was, en sy het gesels oor hoe sy haar drome nastreef en bereik. Een van haar grootste begeertes is om 'n koffiewinkel te besit en sy is nou in die proses om een reg langs Die Dros in George oop te maak.
Linde het die vroue besiel met haar verhaal. Ten spyte van terugslae soos gewigstoename en om haar geliefde pa in haar tienerjare in 'n motorongeluk te verloor, het sy reeds op 'n jong ouderdom die een droom na die ander bereik. Nadat sy haar droom om as sjef by François Ferreira te kwalifiseer bewaarheid het, het sy die volgende drome op haar lys ook kon afmerk - om by die Twaalf Apostels Hotel in Kaapstad en later by die Mount Nelson in hulle gesogte soetgebakafdeling te werk. Haar ander ambisie, om aan Kokkedoor deel te neem, het sy ook nou bereik en sy is verder genooi om op Dagbreek, kykNET se ontbytprogram, te verskyn.
Nog 'n talent waarmee sy die vroue verras het, was om die aand saam met Johann Snyman met pragtige sang af te sluit.
Ook 'n hoogtepunt op die program was Jan-Erik Swart, leier van die Suid-Kaap Kinderkoor se praatjie oor sy drome. Volgens hom lê die sukses van jou drome in harde werk, 'n positiewe uitkyk en om ondersteun te word deur mense na aan jou wat jou verstaan. Verder verg dit baie moed om jou drome te verwesenlik.
Van sy drome wat waar geword het, was onder andere om op skool reeds die kadetorkes af te rig. Hy het in die Vrystaatse Jeugkoor gesing en 40 jaar later kry hy by hulle reünie die geleentheid om die koor te dirigeer en nog 'n droom word waar.
Hy het saam met Kalene Roux die Suid-Kaap Simfonie-orkes begin en vanaf 2006 rig hy die Suid-Kaap Kinderkoor af wat in 2010 en nou weer die ATKV Animato gewen het. Nou jaag Jan-Erik sy grootste droom en dit is om by die Olimpiese Spele van koorkompetisies in Julie in Riga met die louere weg te stap.
Dit gaan nie vir hom oor roem nie. Hy leef sy passie uit en help daardeur ander mense om hulle drome te bereik.
Vrouedag
Kaartjies vir Dames Aktueel se jaarlikse Vrouedag op 20 September by Eden Place is reeds beskikbaar teen R200. Bel Magdaleen Smook by 044 873 6568 of 074 977 1986.

Lede van Dames Aktueel saam met Linde Watson. Van links: Babie Esterhuizen, Wena du Pisani, Leonie Coetzee, Marietjie Kelbrick, Linde,Tanya van Vuuren en Ansie Ihlenfeldt.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'