GEORGE NUUS - Lede van die Suider-Afrikaanse Kerk en Konsertorrelistevereniging (SAKOV) en ander orrelentoesiaste kan uitsien na drie dae van werksessies, meestersklasse, twee boekbekendstellings en konserte vir die vereniging se tweede jaarlikse nasionale simposium wat vanjaar in George gehou word.
Die simposium word van Donderdag 26 September tot Saterdag 28 September by die NG Moedergemeente gehou. Van die aanbiedings kan teen 'n koste bygewoon word; etensuurkonserte is gratis vir die publiek.
Die werksessies hanteer temas soos, 'Hoe om 'n erediens te verander na 'n heilige gesprek met God,' deur Neil Büchner; 'Orrelbou' deur Pekelharing- orrelbouers en die 'ABC van improvisasie' deur Rineke Viljoen.
Ander aanbieders sluit in prof. Hetta Potgieter, dr. Gerrit Jordaan, prof. Antony Melck, Werner Hurter, Wimpie Wilkens en Graham Jacobs. Prof. Mario Nell en Marian Steyl gaan ook meesterklasse aanbied.
'n Jeuguitreik vir leerders word op Donderdag 26 September om 16:00 gehou. Kinders sal hier meer leer oor die instrument asook orrelbou.
Besprekings is noodsaaklik; stuur 'n e-pos aan info@sakov.co.za
Werner Hurter
Konserte
'n Etensuurkonsert deur Ciska Range en Theo van Wyk vind plaas op Donderdag 26 September om 13:10; en 'n Taize-diens (kontemplatiewe aanbidding) om 18:30.
Die tweede etensuurkonsert op Vrydag 27 September vind om 13:10 plaas, met orrelduette deur drs. Isabelle van Rensburg en Andrea Kayser-Mitas, professors Theo van Wyk en Mario Nell,
dr. Gerrit Jordaan en Dalene Brits. Alle konserte vind plaas in die
NG Moedergemeente.
'n Galakonsert op Saterdag 28 September sluit in optredes van die orreliste dr. Isabelle van Rensburg, dr. Andrea Kayser-Mitas, prof. Theo van Wyk en dr. Gerrit Jordaan.
Die Suid-Kaap Kinder-koor onder leiding van Jan-Erik Swart tree as gaskunstenaars op.
Kaartjies is beskikbaar by die deur teen R100 per persoon.
Boeke en beurse
Die boekbekendstellings sluit in prof. Chris Lamprecht se koor- en orrelmusiek getiteld, Het Jesus lief - Hersiene Orrelmusiek & Enkele Gewyde Koorwerke, saamgestel onder redaksie van dr. Gerrit Jordaan; asook 'n bundel van 18 nuwe koraalvoorspele deur prof. Theo van Wyk.
Beursgeld van ongeveer R200 000 word aan orreliste toegeken tydens die simposium.
Inskrywings vir bywoning van die simposium is noodsaaklik en sluit op Vrydag 20 September.
Vir navrae kontak Johann Enslin by info@sakov.co.za.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’