Video
GEORGE NUUS EN VIDEO- Luhan Smit (12) die jong diereliefhebber van George, wat met sy omgeehart al ‘n groot verskil gemaak het, se jongste insamel-poging het vanjaar ekstra vrugte afgewerp.
Hy het Vrydagoggend, 3 Januarie drie ton kos, speelgoed en komberse vir troeteldiere aan Oudtshoorn Dogs in Need (Odin) in Blanco, George, oorhandig. Dis byna dubbel soveel as sy vorige poging. Voorheen het hy 1,6 ton ingesamel.
Luhan se pogings kom 'n lang pad. Sy pa, Kobus, versier sedert 2007 elke jaar hulle huis in Ribbokstraat met die mooiste Kersliggies. Mense wat na die liggies gaan kyk, kan dan skenkings oorhandig.
Vrydagoggend, 'n rukkie vóór 11:00, het 'n groot vragmotor van J&B Auto Spares & Towing Services die bydraes by Odin afgelewer. Luhan het nie op hom laat wag nie. Hy het die werkers gehelp om die bydraes af te laai.
Van Odin se honde het nuuskierig nader gestaan. Een van die honde, Tingaling, het heerlik tussen al die honde-lekkernye gesnuffel.
Luhan se ma, Belinda Smit (links), Marlene Mennie van Odin en Luhan by die bydraes. Foto: Eugene Gunning
Marlene Mennie van Odin, wat Luhan baie goed ken, het breed geglimlag en ges? Luhan se poging help hulle baie.
“Dis wonderlik dat so ‘n jong seun met soveel passie en liefde ons hande vat. Hy kon by enige instansie betrokke geraak het, maar hy het gekies om ‘n dierewelsynsintansie te help. Die bydraes vul ‘n groot leemte.”
Colleen Smith van Odin s? dit is kos vir ‘n maand. Die kos sal vir die diere in die hokke gebruik word.
Luhan help om bydraes af te laai. Foto: Eugene Gunning
Luhan was druk besig om te help om die bydraes af te laai, maar het tog ‘n tydjie afgeknyp om met George Herald te praat. Sy liefde vir diere is alombekend. Hy sê hy geniet dit baie om elke jaar te help. “Ek is baie lief vir diere. Hulle kan nie praat nie, maar ek help hulle om deur Odin, wat nie hulp van die staat kry nie, minstens hul sterte te swaai."
Deel van sy poging is om ook ander kinders te inspireer. “Dit wys ‘n kind kan ‘n verskil maak," sê hy.
Belinda Smit, Luhan se ma, sê sy en haar man, Kobus, is baie trots op hul jongste seun “Hy stel ‘n voorbeeld. Ons is baie dankbaar vir elke donasie wat hy bewerkstellig.”
VIDEO - Luhan gee handjie met die aflaai van die kos.
Vanjaar het die inwoners van Oewerstraat in die flikker van Kersfeesliggies gehelp. Hulle het ‘n houer in hul straat geplaas waarin mense bydraes kon plaas. Belinda s? hulle is baie dankbaar teenoor Oewerstraat se inwoners se hulp. Sy bedank ook Francois van Trend Sales in George.
Tingaling help homself aan die lekkernye. Foto: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’