"Om en by 90 persent van kinders wat ingevolge die Kinderwet beveilig moet word, is as gevolg van drankmisbruik deur een of albei ouers," sê Alna de Waal senior maat-skaplike werker by George Kindersorg.
Andri Nepgen, 'n maatskaplike werker van Kindersorg sê, "Alkohol verwante probleme is die grootste oorsake van verlating, mishandeling (fisies en emosioneel), verwaarlosing en verkragting."
Ouers ervaar in hul eie ouerhuis dat drankmisbruik 'n lewenswyse is. Gesinsgeweld gaan gewoonlik gepaard met drankmisbruik. Ouers is geneig om hierdie lewenspatroon te herhaal aangesien dit die enigste, bekende manier van hul daaglikse lewe is. Ongelukkig word hierdie wanhopige patroon van geslag tot geslag herhaal.
"Van die ouers is gewoonlik nog jonk wanneer hul met vriende deurmekaar raak wat ernstig drank misbruik. Hierdie saamdrinkery
word later 'n lewenswyse wat 'n prioriteit in hul lewens raak," voeg De Waal by.
Babas word blootgestel aan drank terwyl moeders nog swanger is. Hierdie patroon word later voortgesit met borsvoeding. Babas met Fetale alkoholsindroom (FAS) is die gevolg daarvan en sulke babas kom al meer dikwels voor. Hulle het outomaties 'n agterstand in hul lewens. Hierdie moeders is dikwels geneig om nie hul babas gereeld kliniek toe te neem vir die broodnodige mediese behandeling nie en sulke babas is ook gewoonlik ondervoed.
Nepgen verduidelik verder, "Kleuters en ouer kinders moet dikwels uit hul ouerhuis vlug wanneer gesinsgeweld as gevolg van drankmisbruik plaasvind. Hulle word sulke tye genoodsaak om by bure of familie slaapplek en kos te soek." Vrees en 'n gebrek aan sekuriteit by hierdie kinders is maar een van die gevolge.
Dit het 'n ernstige impak op hul selfvertroue en eie identiteit.
Kinders ontwikkel gedragsprobleme, soos skoolversuim, die gebruik van drank, dwelms en swangerskappe as gevolg van die gebrek aan sekuriteit en 'n swak voorbeeld deur die ouers.
"Ongelukkig word al hoe meer lewens op 'n daaglikse basis negatief deur drankmisbruik geraak. Die tendens raak tans een van kinders, wat eerder in alternatiewe sorg moet groot word, as in hul eie ouers se sorg. Dit het sy eiesoortige probleem tot gevolg, soos 'n gebrek aan dissipline en gedragsprobleme," sê De Waal.
Nomzamu Mavi, 'n maatskaplike hulpwerker by Kindersorg het aan die George Herald gesê. "Ons merk op dat gedurende Allpay-week is daar baie meer mense op straat wat onder die invloed van drank verkeer, en dit maak ons werk in die gemeenskap baie moeilik. Maar, ons is dankbaar dat die stadsraad kennis neem van die probleem en dat hulle bereid is om binne hul vermoë stappe te neem om 'n oplossing te kry.
Om die besigheidsure van drankverkope in die woongebiede te verminder sal nie 'n groot effek op die probleem hê nie. Meeste van die drank word vanaf ongelisensieerde 'smokkelhuise' gekoop. Al wat nou gaan gebeur is dit hulle 'n uur of twee vroeër hulle aankope sal moet doen. Weereens wil ek beklemtoon dat ons maatskaplike werkers dankbaar is dat daar wel mense is wat wil help om hierdie probleem op te los."
Nomzamu Mavi, 'n maatskaplike hulpwerker by Kindersorg: "Gedurende Allpay-week is daar baie meer mense op straat wat onder die invloed van drank verkeer."
ARTIKEL EN FOTO'S: MYRON RABINOWITZ