OUDTSHOORN NUUS - 'n Inbreker wat deur die skoorsteen toegang tot 'n bekende sportkroeg op Oudtshoorn verkry het, het sy rieme lelik styfgeloop toe hy nie weer deur die skoorsteen kon wegkom nie.
Volgens een van die mede-eienaars van Wicit Sports Pub, Mauriece Wicomb, is hy omstreek 00:30 Donderdag 9 April deur personeel van Suiderkruis Sekuriteit gebel om te sê dat die besigheid se alarm afgegaan het.
Met sy aankoms by die perseel was daar reeds 'n sterk polisieteenwoordigheid, tesame met lede van die sekuriteitsmaatskappy. Hulle kon hoor dat daar iemand binne die gebou was en het hom gevra om die deur oop te sluit omdat daar geen tekens van 'n inbraak was nie.
“Toe ons binne kom kon ons niemand vind nie, totdat 'n wakker polisiebeamptes in die skoorsteen opgekyk en 'n man se skoene gesien het. Die swartgesmeerde man is toe aan sy voete na onder getrek."
Volgens Wicomb was die inbreker toe sonder sy hemp en langbroek wat hy aanmekaar gebind het om die sak met sterk drank wat hy daarin gepak het, na bo te trek. Hy kon egter nie daarin slaag om na bo te kruip nie.
Wicomb het sy dank teenoor die sekuriteitsmaatskappy en die polisie uitgespreek vir hul goeie werk.
“Ons het geen inkomste in die tyd van Covid-19-inperking en om nog verliese as gevolg van inbrake te ly is erg."
Die voorval by Wicit Sports Pub volg op diefstal van sterk drank Maandagoggend by nog 'n nagklub, The Godfather, wat ook aan Wicomb behoort. Die vermoede is dat dit dieselfde persoon is omdat toegang ook deur die skoorsteen verkry is.
Die saak word deur die polisie ondersoek.
'n Inbreker wat deur die skoorsteen toegang tot 'n bekende sportkroeg op Oudtshoorn verkry het, het sy rieme lelik styfgeloop toe hy nie weer deur die skoorsteen kon wegkom nie.
'Ons bring jou die Tuinroete, Klein Karoo nuus'