GEORGE NUUS - Sakekamers het nog bestaansreg, maar aanpassings sal gemaak moet word. Die instansies sal hul dienste moet aanpas en seker maak dat hulle verteenwoordigend is van die formele en informele sektore van die ekonomie.
Dit is die boodskap van dr. Willie Cilliers, uittredende voorsitter van die George-sakekamer. Die afgelope paar jaar het sy naam al so sinoniem geword met die instansie dat na hom verwys is as Mnr. George-sakekamer.
Die 62-jarige Cilliers het besluit dis tyd om die leisels by die sakekamer te oorhandig. Mense wat hom goed ken weet egter hy ken nie van stilsit nie. Benewens sy privaat ondernemings gaan hy voort om voorsitter te wees van die AHI Wes-Kaap.
Cilliers het 'n lang pad geloop van Heilbron in die Vrystaat waar hy grootgeword het tot in George.
Hy het verskeie posisies in die privaat sektor beklee en hom ook bekwaam as 'n geoktrooieerde rekenmeester.
Voor sy koms na George in 2008 het hy 'n suksesvolle praktyk in die verband in Kimberley gehad.
In George het hy hom gou ingegrawe in die rigting en ook onder meer eienaar geword van die bekende Upstairs at Harry's.
Voorts het hy betrokke geraak by TEN Skills Training and Development wat aan entrepreneurs opleiding gee. Entrepreneurskap is iets wat hom juis baie na aan die hart lê.
Kort na sy aankoms in George het hy die sakekamer gehelp met finansiële administrasie en 2013 het hy voorsitter geword. Hy was lank voorsitter en was vir 'n kort rukkie uit in die hoedanigheid. In 2021 het hy weer voorsitter geword.
In 2016 het hy by die AHI Wes-Kaap betrokke geraak en later voorsitter geword.
Hy benadruk dis vrywillige werk sonder enige vergoeding. "Jy moet 'n passie daarvoor hê. Ek het dit baie geniet en kon so die breë gemeenskap dien."
Oor die jare was daar verskeie hoogtepunte waaronder George-sakekamer wat aangewys as die beste sakekamer in die land in 2014 en 2016.
Cilliers het ook die uitdagings van die Covid-tydperk beleef.
Wat sê ander?
Ingrid Cronjé, 'n vorige uitvoerende hoof van die George-sakekamer, sê Cilliers is 'n wonderlike mens. Hy is opreg, ordentlik en hoflik.
Volgens haar het hy 'n groot passie vir die sakewêreld. Opleiding en die ontwikkeling van mense is vir hom baie belangrik.
Hy was vir haar 'n mentor en sy het baie by hom geleer. Hy kyk altyd na beide kante van die muntstuk, oorweeg alle opsies en kry insette voordat hy 'n besluit neem.
Myrtle Sacuenda, 'n entrepreneur, sê sy het in die hoedanigheid met hom te doen gehad.
"Hy het as mentor baie leiding en advies vir my gegee. Ek het baie by hom geleer en hy het geleenthede vir my geskep. Hy is fenomenale persoon."
Dr. Willie Cilliers, uittredende voorsitter van die George-sakekamer, met een van die modelletjies wat hy so graag in sy vrye tyd bou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’