GEORGE NUUS - Drankwinkels het Maandag rekordverkope gehad toe drank weer die eerste keer in meer as twee maande wettiglik verkoop kon word. In een geval het 'n winkel in George se verkope met 500% gestyg.
Mense het reeds van vroeg by verskeie winkels begin toustaan. By een winkel het mense so vroeg as 06:00 opgedaag, met winkels wat eers 09:00 geopen het. Dit was Dinsdag aansienlik stiller, maar verteenwoordigers van drankwinkels het verwag dat dit besig sou bly tot Donderdag. Drank mag net van Maandae tot Donderdae verkoop word.
By al die winkels was streng maatreëls van toepassing. Mense se hande is ontsmet en by een drankwinkel is mense se temperatuur gemeet. Dié wie se koors te hoog was, moes eenkant wag en kon na 20 minute terugkom.
'n Bestuurder van 'n drankwinkel, wat verkies om anoniem te bly, het gesê dit was chaos reg deur die dag. Daar was rekord verkope van 500%. Wyn, bier en brandewyn was die gewildste. "Mense het uit voorraad gehardloop en het dit kom aanvul."
'n Verteenwoordiger van Prestons Liquor in Knysnaweg het gesê baie meer mense as gewoonlik het opgedaag. Bier was die gewildste. Mense het geargumenteer dat die Staat hulle nie weer gaan vang nie.
Mense het Maandagoggend al van vroeg tougestaan by Prestons Liquor in George. Foto: Eugene Gunning
Mense staan Maandagoggend tou by Ultra Liquors in Knysnaweg George.
By Heather Park Super Spar Tops was dit ook bedrywig. Volgens 'n woordvoerder was dit chaos, maar die personeel het dit baie goed hanteer.
"Verkope was aansienlik meer. Brandewyn en whiskey was die gewildste. Mense het hulle voorrade aangevul want hulle is nie seker hoe lank die inperking gaan aanhou nie."
Hendrik Slabbert, 'n inwoner van George, was reeds om 06:45 voor die deur van 'n bekende drankwinkel.
Toe sy koors gemeet is, was dit te hoog en hy moes eers eenkant staan. Hy het Dinsdag vertel hy was 'n bietjie teleurgesteld. Gelukkig het hy vooraf sy bestelling geplaas. Iemand het dit toe later namens hom gaan afhaal. "Maandagaand het ek 'n paar stewige doppe gevat."
Twee vriende Pieter Buys en Ryno van Rensburg het mekaar by 'n drankwinkel by die Paddagat-sentrum raakgeloop.
Buys het vertel dat hy 08:40 daar was. Hy het Vodka en Savannas gekoop. Volgens hom was dit die moeite werd om vroeg te kom. "Mens weet mos nooit wanneer hulle die voorrade gaan beperk nie. Tong in die kies het hy gesê: "Ek het al van my duur drank begin drink."
Van Rensburg het saamgestem dat dit die moeite werd was om vroeg daar te wees. Hy het onder meer brandewyn gekoop. "Ek het my brandewyn gemis."
Mense se temperatuur is Maandaoggend by Ultra Liquors in Knysnaweg, George, gemeet voordat hulle die winkel kon binnegaan. Foto: Eugene Gunning
Liquor stores in George had record sales on Monday 1 June, when they were allowed to open for the first time since the lockdown started on 27 March. One store sold 500% more than usual. It seemed that the main reason for the record sales was that people had run out of stock at home. Some were also stocking up for the possibility of an extended lockdown or buying quantities being limited.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'