SUID-KAAP NUUS - EC (klein diere parasietiese siekte toestand) is tans weer bedrywig in die Suid-Kaap, veral Mosselbaai en George-omgewing.
Eienaars van hasies, marmotte, hamsters en ander klein diere word gevra om daarop te let dat die streek weer onder EC deurloop en alle diere behandel moet word voor hulle siek word.
In samewerking met Danabaai-veeartse en Southern Cape Bunny Haven word gevra dat alle eienaars hulle eksotiese diere gesond hou deur voorkomend te behandel.
Verlede jaar het dr. Susi Kok van Danabaai-veeartse baie vinnig ingespring met behandelings en Southern Cape Bunny Haven bygestaan om talle siek diertjies in die Haven asook die streek te behandel. Hierdie jaar is dit drs. Henk Basson en Marais Cilliers wat oorgeneem het en reeds die verhoging in gevalle in die streek beleef.
Behandeling:
Kry Panacur by jou naaste veearts om jou diertjie vir nege dae lank elke dag te kan behandel, om seker te maak dat hulle nie siek word nie. Dit is 'n kursus van 9 tot 14 dae, en nie ’n enkel behandeling nie.
Wat is EC:
Encephalitozoon cuniculi is 'n protozoa parasiet wat die brein en organe aanval. Eerstens word die brein so aangetas dat die diertjie basies verlam word. As dit vinnig behandel word, herstel die diertjie gewoonlik 100%. Wanneer longe, die hart, die oë en niere aangetas word deur die EC, soos dit versprei, raak die kanse minder en die kans op dood is baie groot. Dit is nié 'n virus nie, nié 'n bakterie nie, maar 'n parasiet en maklik om te voorkom, maar egter ook maklik om op te doen deur diertjies wat buite kom.
Tekens van EC - in fases soos dit gebeur:
- kop wat skeef tilt (baie gevalle, nie almal)
- diertjie bewe
- diertjie begin skeef loop of in sirkels (baie gevalle, nie almal)
- baie slap / lam houding,
- oë begin jellierig raak en kan wit kolle kry as die EC parasiet in die oogbal binnedring
- volle verlamming
- asemhaling begin moeilik raak
- verwurging en roggel
- dood
Die EC werk baie vinnig - vanaf geen simptome na volle verlamming kan binne 24 uur wees.
Waar kom EC vandaan:
- Katte is die grootse draers van EC
- EC kan in die grond lê (soos Parvo)
- vanaf die mis, uriene en speeksel van diere wat EC het of dra. (EC kan ingeasem word vanaf 'n draer)
- Die Suid-Kaap het 'n groter aanwesigheid van EC en veral nuwe diere wat in die streek inkom word siek.
- EC kan lank dormant in jou diertjie lê en dan aktief raak wanneer daar seisoenale veranderings, stres, operasies of trauma was. In die Suid-Kaap is Mei die hoogste piek van aktiwiteit.
Let wel:
- Nie alle klein diere word siek van EC nie, baie dra dit en steek ander diere aan. Hulle immuunsisteem maak dat hulle dit nie kry nie, maar wel oordra.
- Klein diere in die Suid-Kaap moet liewer elke ses maande voorkomend behandel word vir EC; anders elke jaar aan die begin van Mei.
Panacur is nie duur nie. Dit kos jou so min as R20 per diertjie; om hulle te beskerm.
EC en die mens:
- slegs mense wat basies geen immuniteit het nie kan dit aansteek; jou kans is groter om dit by jou kat te kry as by jou klein diertjie
- swanger vroue se babas kan wel skade optel / miskraam as hulle diere EC dra of het, wanneer dit nie aan 'n dokter genoem word nie. Dit gebeur selde, en is baie maklik om te behandel - as u swanger is en 'n kat of klein diertjie besit, gesels met u dokter.
SOU u enige van die tekens sien, neem hulle na u naaste veearts.
Maak gereed om u diertjie te voer sou hy/sy siek wees.
As u diertjie reeds siek is en simptome wys, is dit 'n 28 dae lange kursus, en 'n veearts moet die diertjie sien en die nodige ekstra spuite en behandeling toedien.
Enige vrae kan aan Danabaai Veeartse by 044 698 1815 of Southern Cape Bunny Haven by 060 466 2810 gerig word.
(Southern Cape Bunny Haven is 'n geregistreerde entiteit, NPO 241-476).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'