Update
NASIONALE NUUS - Talle Suid-Afrikaners, waaronder baie bejaardes, moet tot die einde van die inperkingstyd, 'n ander plan maak om daagliks 'n warm maaltyd te bekom. Duisende mense koop normaalweg hulle hoofmaal by kettingwinkels wat sulke dienste bied.
Die minister van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede, Nkosazana Dlamini-Zuma, het hierdie diens tot minstens volgende week Vrydag die nek ingeslaan deur die publisering Maandagaand van die wysigings aan die inperkingsmaatreëls wat sekere onsekerhede moes opklaar - insluitend die verbod op die verkoop van voorbereide etes.
En nou is dit duidelik. As jy nie by die huis 'n warm ete kan voorberei nie, is dit koue kos, skat.
In Marietta van der Vyver se gelyknamige boek verwys die titel na die wraak wat sy neem teen haar eks-man, maar in dié geval is die mense wat onder die belaglike maatreël ly, duisende onskuldige pensionarisse en ander, meestal alleenlopers, wat voor inperking elke dag by hulle plaaslike supermark opgedaag het om 'n gebalanseerde, gekookte maal te koop.
Pick n Pay Pre-Cap
Fernando Gomes, eienaar van Pick n Pay, Pre-Cap Centre in Courtenaystraat, George, sê hy word steeds oorval met navrae oor hulle voorbereide, gaar etes. Die winkel is aan die begin van die inperking, toe die regulasies nog vaag was, deur die polisie beveel om sy kookaktiwiteite te staak.
'n Verteenwoordiger van die gesondheidsafdeling van die Garden Route-distriksmunisipaliteit het op 31 Maart daar opgedaag. 'n Rukkie later het Gomes 'n telefoonoproep van die polisie ontvang en is hy meegedeel dat 'n klagte by hulle gelê is.
Hy moes "alle voedselproduksie" behalwe die bakkery en die slaghuis sluit.
Gomes het onmiddellik saamgewerk. Hy sê hy het begrip vir die inperkingsmaatreëls en respekteer dit, maar dat dit erge gevolge het. Hy het aan sy klante verduidelik wat gebeur het en van die mense was duidelik ontsteld.
Baie het gesê dat hulle elke dag 'n warm maaltyd daar gekoop het en dat hulle enkellopend en/of bejaard is. Hulle het nie kookgeriewe nie en buitendien is dit baie goedkoper om 'n reeds voorbereide maaltyd net vir een persoon te koop, as om dit self te maak.
Die inperking het 'n negatiewe impak op sy onderneming en omset het met sowat die helfte gedaal. Van die personeel is ook tydelik huis toe gestuur, omdat daar nou nie werk vir almal is nie.
Besigheidsure was voorheen van 07:00 tot 22:00. Nou sluit hulle om 18:00.
Verwante artikel: Koue kos duisende se voorland
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'