TUINROETE NUUS - Die stormstuwings wat die afgelope naweek 'n spoor van verwoesting langs dele van die kus in die Tuinroete gesaai het, kan weer voorkom.
Gerhard Otto, hoof van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit se rampbestuur, het Dinsdag 19 September gesê dat die stormstuwings 'n weerfenomeen is wat nie noodwendig net aan klimaatsverandering toegeskryf kan word nie.
Volgens Otto is dit nie die eerste keer dat so iets in die gebied gebeur nie. 'n Soortgelyke insident het in 2008 plaasgevind, maar die golwe was destyds nie so hoog as dié van die afgelope naweek nie. Destyds was daar ook geen vroeë waarskuwingstelsel in plek vir sulke omstandighede nie.
Rampbestuur het saam met die SA Weerdiens daarna 'n stelsel gevestig vir die waarskuwing van stormstuwings (storm surges). Die SA Weerdiens verskaf nou vroeë waarskuwings vir stormstuwings.
Hy het gesê die afgelope naweek se situasie het ontstaan as gevolg van 'n storm op die see, 'n koue front en springgety. Dié drie faktore gekombineer het die ongewone stuwings veroorsaak.
Die afgelope naweek se stormstuwing was die hoogste wat die afgelope 20 jaar in die Tuinroete voorgekom het.
Hy het benadruk dat mense moet besef hulle sal nie onder 'n sekere lyn 'n huis mag bou nie.
Sy advies aan mense in sulke situasies is dat hulle moet ag slaan op die vroeë waarskuwings. "As mense die see wil dophou, moet hulle eerder op 'n hoë punt gaan staan."
Rampbestuur het Maandag 'n evaluasie van die situasie gedoen. Die Nasionale rampbestuursentrum gaan satellietbeelde beskikbaar stel om te kyk tot waar die see opgekom het en watter gebiede geraak is.
Daar sal ook gekyk word hoe dit voor die gebeure van die naweek gelyk het, asook na watter infrastruktuur dalk in die toekoms geskuif moet word.
Die weerdiens het in 'n verklaring gesê winter is nog nie iets van die verlede in die Wes-Kaap nie. Die provinse kry steeds koue, nat en winderige toestande wat veroosaak word deur 'n reeks koue fronte wat deur die gebied beweeg.
Luidens die verklaring word stormstuwings dikwels verwar met groot golwe. Daar word 'n beroep op die publiek gedoen om weervoorspellings dop te hou en waarskuwings ter harte te neem.
Gereelde opdaterings is beskikbaar by www. weathersa.co.za sowel as die SA Weerdiens se twitter diens, @SAWeatherServic.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’