GEORGE NUUS - Dit is duidelik dat daar 'n tussenverkiesing in New Dawn Park (wyk 16) aan die broei is, waar kiesers oor sowat 'n maand, op 19 Julie, hul kruisies gaan trek.
'n Skermutseling in die informele nedersetting Moeggehuur in hierdie gebied, knap na die registrasienaweek aan die begin van die maand, het inwoners goed omgekrap.
Luidens 'n verklaring deur die Good-party is 'n saak van aanranding teenoor 'n groep DA-ondersteuners geopen nadat hul wykskandidaat, Naellowine 'Elsa' Esau, glo bygedam is.
Die verklaring lig uit dat dreigemente deur die voormalige Good-raadslid Theresa Jeyi (tans die DA se kandidaat vir die wyk), asook ander DA-ondersteuners se wangedrag tydens die registrasienaweek van 3 Junie, bygedra het tot die uiteindelike voorval van aanranding.
Die bewering is ook gemaak dat Jeyi probeer het om druk op Esau toe te pas om by die DA aan te sluit, en dat Jeyi en ander DA-lede vir Esau by haar eie huis gedreig het.
"Dit is alles 'n klomp snert en liegstories," het Jeyi by navraag gesê. "Na 'n baie bedrywige registrasienaweek het ek vir 'n klompie DA-ondersteuners wat baie hard gewerk het, die Maandagmiddag, 5 Junie, 'n vleisie in Moeggehuur gebraai. Ons het eers agterna gehoor dat een van ons helpers, Simone Mintoor, deur Esau en twee ander Good-ondersteuners aangerand is toe sy haar blou T-hemp wou gaan aantrek.
Dit is nou tipies van Good om om te draai en eerste 'n saak van aanranding te gaan maak," het Jeyi gesê.
"Simone was so getraumatiseer. Sy het eers die Dinsdag 'n saak by die polisie gaan maak. Daar was ooggetuies."
Die polisie het nie teen druktyd bevestig of die sake wel aanhangig gemaak is nie.
Intussen was Good onsuksesvol met hul aansoek in die Kaapse hooggeregshof om die tussen-verkiesing in wyk 27, in Pacaltsdorp, stop te sit.
Hulle het 'n dispuut verklaar aangesien hulle reken die voormalige Good-wyksraadslid, Richard Hector, se bedanking nie prosedureel korrek was nie, en hy tegnies dus nog 'n raadslid is. In 'n verklaring vroeër die week het Good aangedui dat hulle in al drie wyke waar tussenverkiesings verklaar is, gaan deelneem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’