GEORGE NUUS - Die oud-bibliotekaris van George en plaaslike digter, Annalie Calitz (71), is op 11 Mei in haar slaap oorlede.
'n Gedenkdiens word vandag (Donderdag 19 Mei) by Tuiniqua-versorgingsentrum gehou waar sy 'n inwoner was.
Calitz was voorheen ook die bibliotekaris by die Prins Albert-biblioteek. Sy het in George grootgeword en het vir die grootste deel van haar lewe hier gewoon.
Sy het 'n graad in biblioteekkunde verwerf wat ook die grondslag was vir haar loopbaan in die biblioteekwese.
Haar broer, Estian Calitz, afgetrede professor in ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch, het Maandag 16 Mei gesê hul ouers het na George verhuis toe hulle nog baie klein was. Hulle het nog 'n broer, Chris, gehad wat reeds oorlede is.
Volgens hom het George 'n plek diep in sy en sy suster se harte gehad. "Annalie was baie lief vir George."
"Sy was 'n talentvolle skrywer en het na haar loopbaan in die biblioteekwese met digkuns begin. "Digkuns was vir haar 'n stokperdjie en sy het baie vreugde daarin gevind. Dit het haar geweldig besig gehou. Sy was lief om vir mense, as gelukwensing met hul verjaarsdae, gedigte te skryf.
"Sy het gedigte oor verskillende onderwerpe onder meer die natuur, baie godsdiens verwante aangeleenthede en sommer net oor mense geskryf," vertel hy.
Hy het haar beskryf as 'n sensitiewe mens met 'n groot hart. Haar vriende was vir haar geweldig belangrik en hulle het baie vir haar beteken. Sy het goeie vriende gemaak tydens haar verblyf in Tuiniqua. "Annalie was 'n baie minsame mens, maar sy het ook haar kwota swaarkry gehad."
Alani Voigt, sentrumbestuurder van Tuiniqua, het gesê sy was een van die bekendste inwoners by die instansie. Sy was baie geliefd onder die inwoners en in die gemeenskap.
Volgens Voigt was sy 'n bekende gesig in koffiewinkels waar sy gedigte geskryf het en sketse gemaak het.
"Ons het haar kreatiewe vermoë benut en sy het gedigte en liedjies vir ons geskryf. Sy was 'n gereelde bydraer tot ons nuus-brief."
Wyle Annalie Calitz
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'