GEORGE NUUS - Weens die buitengewone groei in die getal nuwe inwoners wat na die George-omgewing trek, raak residensiële huureiendomme skaars en is dit nie maklik om 'n geskikte blyplek te kry nie. As 'n huurder boonop troeteldiere besit, is jou kanse blykbaar nog minder.
Laurie Geldenhuys is een van talle huurders wat op Facebook kla dat daar feitlik nêrens plekke is wat diere toelaat nie. Sy is moedeloos gesoek.
"Soveel mense is kredietwaardig; alles wat nodig is, is in plek, maar jy mag nie jou dierekinders daar hê nie! Mens neem in ag dat daar sekere situasies kan opduik rondom mense en hul diere, maar eerlikwaar, die meerderheid mense het diere!" skryf sy.
Kathy Joubert, 'n eiendomsagent van Just Property wat vir jare as verhuringsagent opgetree het, sê dit was voorheen makliker om troeteldiervriendelike huureiendomme te vind.
"Huurders wat nie verantwoordelikheid neem en hul diere goed beheer en leer nie, het egter daartoe bygedra dat baie eienaars dit deesdae eerder verbied. Dit word gewoonlik as 'n klousule in die huurkontrak opgeneem. Ek het uit eie ondervinding gesien hoe diere huise en tuine kan verniel."
Sy sê die deposito is meestal nie genoeg om al die skade wat diere aanrig te herstel nie. "Diere beskadig tuine, kou vensterrame, deure en deurkosyne, en krap die glas van vensters of duur skuifdeure. In gemeubileerde plekke kan daar nog groter skade wees omdat gordyne en meubels ook deurloop. Nog 'n probleem is rusverstoring."
Verhuringsagente kan in die nag wakker gebel word deur bure wat kla dat 'n huurder se honde blaf.
"'n Mens voel jammer vir eensame bejaardes vir wie 'n troeteldier terapeuties is en help met eensaamheid en angs. Dis ook goed vir kinders om 'n troeteldier te hê, maar 'n verhuurder weet nie vooraf watter tipe troeteldiereienaar jy is en hoe jou diere hulle gedra nie," sê Joubert.
Dierevriendelike verhuring vergroot huurderpoel
Daar is wel maniere waarop diere en verhuring versoen kan word, volgens Letting People, 'n nasionale residensiële verhuringsagentskap.
Deur huurders met diere toe te laat, het die verhuurder 'n groter huurderpoel om uit te kies. Jy kan jou huur 'n bietjie verhoog omdat jy meer waarde bied. Jy lok dan huurders wat gewillig is om te betaal om hul diere aan te hou, 'n aanduiding dat hulle goed na hul diere omsien en dat dit waarskynlik diere is wat hulle goed gedra.
Die verhuurder kan ook aandring op verwysings van vorige verhuurders.
Spesifiseer reëls in die huurkontrak, soos of diere in die huis toegelaat word, hoe hulle afval hanteer gaan word, redelike geraasvlakke, en wat sal gebeur as die huurder nie hierby hou nie.
Stel 'n proeftydperk voor waar 'n drie maande kontrak geteken word wat hernu kan word op sterkte van die diere se gedrag.
Huurders moet eerlik kommunikeer
As jy 'n huurder met troeteldiere is, moet jy duidelik en eerlik oor jou diere kommunikeer.
Die verhuurder mag jou tegemoetkom en jou diere toelaat as hy weet jou diere is gesteriliseer, is goed geleer om nie in die huis te mors nie, en kry gereeld oefening. Jy kan ook jou veearts se nommer verskaf, en waar moontlik, reël dat die verhuurder jou diere ontmoet.
Herstel jou diere se skade so gou moontlik
Private Property se webwerf het baie wenke vir troeteldiereienaars wat wil huur, waaronder:
• Neem verantwoordelikheid as jou diere skade aanrig, en herstel die skade so gou moontlik.
• Wees versigtig waar jy 'n gemeubileerde eiendom huur. Bedek meubels met plastiek en koop krapblokke vir jou katte. Laat matte en gordyne van tyd tot tyd professioneel skoonmaak.
• Maak seker jou troeteldier se inentings en ontwurming is op datum om besmetting van die eiendom te verhoed.
• Hou jou hond aan 'n leiband wanneer jy in die kompleks of buurt gaan stap en tel op agter jou hond.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'