GEORGE NUUS - Ná bykans 'n jaar van klagtes, 'n siviele hofsaak en oor-en-weer bakleiery is daar lig aan die einde van die tonnel vir inwoners van Groeneweidepark.
Die buurt in die suide van George reg langs die R102, gaan reeds vir 'n jaar gebuk onder stof wat deur massiewe komposvragmotors opgeskop word. Hierdie vragmotors ry deur die gebied om by 'n serwituut-grondpad aan te sluit onderweg na 'n plaas op Platrug.
Verskeie vragmotors gebruik die roete, maar die inwoners se grootste probleem is die yslike vragmotors van Reliance Compost wat elke dag verskeie ritte aflê.
Reliance huur 'n gedeelte van Platrug waar hulle die kompos verwerk.
Keelvol inwoners van Groeneweidepark het aan die George Herald genoem dat dit nie net die stof is wat pla nie, maar ook voetgangers se veiligheid.
"Ons huise is binne en buite konstant onder stof. Ons paaie is besig om in te gee, want dit kan nie sulke swaar verkeer hanteer nie en ons eiendom word beskadig. Wat as hulle eendag 'n kind omry? Dis 'n gesondheid- en veiligheidskwessie," het Browen Johnson, wykskomiteelid van Groeneweidepark, gesê.
Volgens George Kuyler, een van die aandeelhouers van Platrug Properties (Pty.) Ltd., het die munisipaliteit destyds met die oprig van die verkeersirkel wat York- en Hopestraat verbind, die ou toegangspad na die plaas deur Groeneweide herlei.
"Dit is amptelik so onder provinsiale paaie opgeneem en is volgens my rekords 'n provinsiale pad. Ons sou ook verkies om nie deur die woonbuurt te ry nie. Ons het al verskeie kere die munisipaliteit versoek om vir ons 'n alternatiewe roete te gee. Die voorstel is om verby die stortingsterrein en rioolwerke te ry," sê Kuyler. Volgens hom het die munisipaliteit vroeër die jaar die bestaande roete sonder 'n konsultasieproses toegemaak. Dit het in 'n siviele hofsaak geëindig.
'n Reuse-vragmotor wat kompos vervoer ry deur die Groeneweide-woongebied.
"Na afloop van die hofsaak lyk dit of die munisipaliteit sal instem tot 'n alternatiewe roete en die proses is aan die gang. Tot dan sal verskeie vragmotors nog die bestaande roete gebruik. Ek hoop regtig dat ons 'n werkbare oplossing vir almal kan kry."
By navraag aan die munisipaliteit het Johan van Schalkwyk, hoof van die regsafdeling, Maandag aan die George Herald gesê die munisipaliteit is besig om die situasie tot die beste belang van alle betrokkenes uit te sorteer.
'n Reuse-vragmotor wat kompos vervoer ry deur die Groeneweide-woongebied.
Dinsdagmiddag het die koerant betrou-baar verneem dat daar binnekort ook 'n padteken, wat 'n 10-ton gewigsbeperking aandui, by die ingang van Groeneweidepark opgerig gaan word. Die eienaar van Reliance Compost, Eddie Redelinghuys, wou nie kommentaar lewer nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'