GEORGE NUUS - "Alhoewel dit 'n tyd is wat aanpassings en ongekende uitdagings aan elkeen stel, kan die koronavirus onafwendbaar ook daartoe aanleiding gee dat ons as mens geen ander keuse het as om te herbesin nie. Dit is 'n kollektiewe probleem wat almal in dieselfde bootjie plaas ongeag ander verskille wat ons op vele vlakke mag hê," sê Christie Els, voorligtingsielkundige.
Els het met die George Herald gepraat oor die sielkundige impak van die virus op mense se lewens en hoe hulle kan aanpas.
"Sedert die virus die media en ons lewens begin oorneem het, is dit 'n groot gesprekspunt, nie net in die terapeutiese konteks nie, maar ook tydens sosiale interaksies.
"Mense kom toenemend meer angstig en onseker voor, maar is duidelik ook pro-aktief en weerspieël in deelnemende gesindheid as dit by die weg vorentoe kom," het sy gesê.
Sielkundig gesproke is een van die grootste uitdagings die dringendheid waarmee gebruike en gewoontes verander moet word. Dit is iets wat nie 'n maklike taak is nie. Die mens hou byvoorbeeld nie van isolasie nie en het 'n natuurlike behoefte aan sosiale kontak.
Onder die huidige beperkinge, moet tradisionele gebare van welwillendheid en hartlikheid plek maak vir minder ontginde wyses waarmee ons kontak en konneksie bewerkstellig.
Om in kontak te bly ten spyte van die tyd van isolasie, gee egter 'n gevoel van samesyn.
Die wyse waarop mense "weerligafleiers" kan kies, is geweldig ingeperk. Sport, die kunste en ander vorms van vermaaklikheid, om reise te onderneem, asook die kuiertjies na werk is vir menige gebruike wat met stresweerbaarheid gehelp het en nou onafwendbaar vervang word met die afskaal van aktiwiteit en groter stiltes.
By dit alles is daar ekonomiese onsekerheid.
Die markte tuimel en mense begin wonder of hulle steeds 'n inkomste en finansiële sekuriteit gaan hê. Daarbenewens hou mense daarvan om in beheer te wees.
Onsekerhede en verwarring kan egter beter verwerk word as elkeen met 'n doelgerigheid en waaksaamheid doen wat hy of sy weet om te doen om die verspreiding van die virus hok te slaan.
Volgens Els is daar aan die ander kant van die spreekwoordelike muntstuk egter 'n onbegonne terrein van geleentheid om nuut te besin oor hoe ons as 'n mensdom kan saamwerk om 'n ramp om te draai en uiteindelik hierdie bedreiging tot voordeel van die mensdom en skepping te transformeer in 'n veiliger en gesonder plek vir alles en almal.
"Ons word uit ons vooroordele teenoor mekaar gedwing in 'n verenigde denkrigting wat die beste belang van elkeen op die hart dra, ongeag wie jy is.
"Dit is nou 'n tyd om te gee en liefde vir mekaar te wys deur die regte ding te doen. Dit het soveel potensiaal om te wys wat in ons harte is."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'