GEORGE NUUS - Die Kingswood-gholflandgoed het Saterdag 1 Februarie geskiedenis gemaak met sy eerste potjiekoskompetisie, en die geleentheid het alle verwagtinge oortref en uitgeloop op 'n heerlike fees van geur, kreatiwiteit en geselligheid.
Hoofbeoordelaar en seremoniemeester, Mandi Botha, het die wenners aangekondig en haar lof uitgespreek oor die deelnemers se indrukwekkende aanbiedings.
"Dit was 'n plesier en 'n voorreg om deel te wees van Kingswood se eerste potjiekoskompetisie.
"Die deelnemers het ongelooflik baie moeite gedoen met innoverende resepte en opdiening. Hul stalletjies was pragtig versier en 'n hele paar het volgens 'n tema aangetrek.
"Een span het selfs met 'n dansitem losgetrek toe die beoordelaars nader stap!" sê sy.
"Die wenspan, Plaasjapies, het die beoordelaars beïndruk met hul unieke kombinasie van hoenderdye en lamsribbetjies, opgedien met dun suurlemoenskyfies om deur die vet van die ribbetjie te sny, hoewel dit reeds lekker uitgebraai was."
Die topdrie spanne was Plaasjapies, Chilli Kings en Pot Rock.
Hoofbeoordelaar, Mandi Botha, doen wat van haar verwag word.
Die wenspan, die Plaasjapies, is van links Megan, Jean, Joyce en Jannie Joubert.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’