GEORGE NUUS - Die gemeenskap van Borcherds het hul stem gegee vir Rita Gregory van die Patriotiese Alliansie (PA) met die onlangse tussenverkiesing in hierdie wyk.
Gregory is op Maandag 28 Oktober amptelik as George-raadslid by die George-landdroshof ingesweer. Sy is die 15de raadslid wat op hierdie manier ingesweer is sedert die begin van die plaaslike regeringstermyn.
"Rita is 'n boorling van Borcherds en het oor die jare 'n sterk reputasie as gemeenskapsaktivis en weldoener opgebou. Sy is bekend as die stem van die onderdruktes en die 'Moeder Teresa' van Borcherds," het die PA se streeksekretaris aan die Tuinroete, Wayne Robertson, gesê.
"Haar welwillendheid en deernis het haar 'n geliefde figuur in die gemeenskap gemaak. Sy is veral beroemd vir haar weeklikse potjiekos. Elke Dinsdag kook sy in 'n ander straat binne wyk 20, as 'n bron van ondersteuning en hoop vir mense wat dit nodig het."
Rita Gregory
Gregory het gesê dat sy in haar nuwe amp as raadslid vir die eerste keer die geleentheid het om die hele gemeenskap van Borcherds in 'n amptelike hoedanigheid te kan dien.
"Die gemeenskap van Borcherds kan my vertrou dat ek hul stem sal wees in die raadsaal en sal elke dag meer as my beste doen om toe te sien dat die nodige regmatige dienslewering aan wyk 20 gelewer word," het sy gesê.
"Ek is nie 'n mens van baie woorde nie, maar 'n doener. Ek sien uit na die uitdagings en daar is baie, maar met my ondervinding van gemeenskapswerk, weet ek dat ons as Borcherds-gemeenskap saam, baie kan bereik."
Gregory onderneem om wyk 20 te dien met toewyding en 'n oop hart. Sy geniet die ondersteuning van haar man, Myron Gregory, haar vyf kinders en drie kleinkinders.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’