Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - "Jy sien soms iemand hier inkom op 'n rolstoel. Later stap hy hier uit." So vertel Michael Barkley van Barkley Oates Inc oor sy werk.
Die 67-jarige Barkley is onlangs aangewys as George se sakepersoon vir 2018. Die maatskappy is onder meer betrokke by die vervaardiging van kunsledemate.
Hy het 'n lang verbintenis met George en benewens sy sakeprestasies was hy op sy dag ook Suid-Afrikaanse judokampioen.
Barkley maak geen geheim van sy geloof nie. "Die rede vir my sukses is God. Hy is die hoof- uitvoerende beampte van my maatskappy. As jy Hom eerste stel, dan val dinge in plek. Ek glo my lewe moet 'n getuienis wees," sê hy.
By dit, glo hy ook aan harde werk en integriteit. Daar is sowat 17 mense in diens van die maatskappy en hy glo werknemers moet bemagtig en vertrou word. "Ons glo aan terugploeg en lei ook studente hier op."
Pad vol draaie
Voordat hy in George beland het, het hy 'n paar ver paaie geloop. Hy is op Wolmaransstad in die destydse Wes-Transvaal gebore. Toe hy net nege maande oud was, het sy ouers na Kitwe in Zambië verhuis. Later was daar onrus in die gebied en toe hy 10 jaar oud was, moes sy ouers alles net so los en vlug. Alles wat hulle kon saamneem, het hulle in 'n kar gelaai.
Sy ouers, suster en hy, het toe by sy oupa en ouma in die Kaap gaan woon. Na skool het hy diensplig gaan doen en in die Vloot beland. Hy het besluit om te gaan studeer sodat hy 'n ortotis en prototis kon word.
Sy besluit is beïnvloed deur sy oupa aan moederskant wat tydens die Eerste Wêreldoorlog deur sy pols geskiet is. Sy oupa het daarna nie die volle gebruik van sy hand gehad nie, maar kon wel klavier speel. Nog 'n rede was 'n oudleerling wat 'n praatjie by sy skool kom lewer het oor dié beroepsrigting.
Michael Barkley van Barkley Oates Inc in sy kantoor in George.
Kyk 'n video hieronder:
Van skoonmaker na skoenmaker
Hy het sy studies by die Rooikruis-hospitaal in Rondebosch begin, en is later na Windhoek in die destydse Suidwes-Afrika. Hy het die huidige maatskappy in George in 1983 begin. "Dit was net my vrou Carol, die skoonmaker Krisjaan Brown en ek." Brown het nie stilgesit nie en gevorder van skoonmaker tot 'n ortopediese skoenmaker.
Die maatskappy het oor die jare uitgebrei en in 2005 het Barkley sy graadkursus aan die Tswane-universiteit voltooi. Barkley beskryf sy werk as baie lonend in 'n sielkundige sin. "Jy sien die vreugde op iemand se gesig as jy hom of haar gehelp het." Uiteraard gaan die werk ook gepaard met trauma. Dis 'n proses en spanwerk. Baie mense is betrokke en sluit onder andere in dokters, sielkundiges, arbeidsterapeute en fisioterapeute.
Die bedryf het oor die jare baie verander en uitgebrei. "Toe ek begin het was dit houtbene en aluminium. Deesdae is dit bioniese tegnologie wat gebruik word om lewens te verander."
Michael Barkley hou 'n kunsledemaat vas wat in die verlede gebruik is.
Michael Barkley van Barkley Oates Inc wys hoe die tegnologie van kunsledemate oor die jare verander het . Link is 'n kunsbeen wat voorheen gebruik is en regs die nuutste. Foto's: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'