TUINROETE NUUS - Indien jy die ouderdom van 75 bereik sou jy tussen 25 en 30 jaar daarvan geslaap het. Tjaart van der Walt is 'n kliniese sielkundige in die Tuinroete wat skryf oor slaap. Van der Walt laat val die soeklig op hierdie lewensbelangrike onderwerp in 'n reeks artikels. Want, niemand kan sonder slaap funksioneer nie.
"Wat is die slaap 'n wondersoete ding?" So begin DF Malherbe sy gedig en later volg hy op met: "soos maneskyn diep waterkuile raak om daar te droom in silwer skemer..." Maar dié sorgelose vrede bly vir meeste van my pasiënte buite bereik. Tragies.
Met die lees van navorsing wat reeds gedoen is oor slaap, is ek opnuut verstom oor die positiewe gevolge van goeie en genoeg slaap, en absoluut geskok oor die nadelige effek van slegte of te min slaap.
Dit het my uiteindelik genoop om 'n klompie artikels te skryf oor aspekte van slaap, om hopelik 'n bydra te lewe om die leser in te lig en te bemagtig om uiteindelik ook die wondersoete ding te ervaar, om soggens vanself te ontwaak en uitgerus te voel.
In die artikels wil ek onder andere die volgende aspekte behandel: hoeveel slaap is genoeg vir elke lewensfase; uit watter fases bestaan slaap en wat is die funksie van elk; hoe affekteer slaap ons immuunstelsel; wat is goeie of slegte slaap se uiteindelike gevolge vir die liggaam, met meer spesifieke fokus op aspekte soos gewig, bloedsuiker, metabolisme, ensovoorts; hoe hou slaap verband met psigiatriese siektes en motorvoertuigongelukke; wat is die effek op vermoëns soos konsentrasie, geheue, impulsbeheer en kreatiwiteit; hoe verskil mense se natuurlike slaapritmes; wat is die effek van elektroniese skerms, kafeïen, alkohol en skofwerk op jou kwaliteit van slaap; en dan die heel belangrikste, hoe kan jy jou slaap verbeter.
Slaap en vetsug
Met elke artikel sal een of twee navorsing-studies se resultate op 'n eenvoudige manier bespreek word om aan te dui dat stellings nie uit die lug gegryp is of net ouvrou-stories of bangmaakpraatjies is nie.
Indien ons gemiddeld 75 jaar oud word en genoeg geslaap het deur die lewe, beteken dit dat ons tussen 25 en 30 jaar lank in totaal geslaap het, ten spyte daarvan fokus mense omtrent al hul energie en aandag op fasette van die lewe wat wakkerheid behels en dan meestal ten koste van slaap.
Dit kan wissel van meer en meer geld najaag, die speel van rekenaarspeletjies tot ounag toe, vraatkyk van televisiereekse, tyd verwyl op sosiale netwerke tot by laatnagpartytjies.
Tjaart van der Walt is 'n kliniese sielkundige wat skryf oor slaap.
Net om die belangstelling verder te prikkel, gee ek 'n paar statistieke wat 'n mens laat dink.
Kinders wat voor die ouderdom van drie jaar gereeld te min slaap (met ander woorde minder as 10 en half ure per nag), het 'n 50% groter kans om op die ouderdom van sewe vetsugtig te wees, as die kinders wat 12 ure per nag slaap.
Kinders word as vetsugtig gedefinieer wanneer 97.5% van alle kinders op daardie ouderdom minder as hulle weeg. Mense wat 'n streng dieet volg, verloor gewig. Dié wat gemiddeld agt en 'n half uur elke nag slaap se gewigsverlies is toe te skryf aan 50% vetmassa- en 50% spiermassaverlies. Dié wat gemiddeld net vyf en 'n half uur slaap verloor slegs 30% vetmassa. Die res is spiermassa.
Om af te sluit: indien jy of iemand wat jy ken smôrens 'n wekker nodig het om wakker te word, nie voor 11uur soggens kan funksioneer sonder koffie nie en by tye deur die dag aan die slaap wil raak, is die moontlikheid van slaaptekort baie groot. Kom en ontdek die interessanthede van slaap en hoe om dit te verbeter tydens die volgende paar weke se reeks artikels en vind uit waarom Shakespeare na slaap verwys het as "Nature's soft nurse."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’