Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Twee boorlinge van George is besig om stadig maar seker vir hulself 'n pad oop te kap in die toerisme- en gasvryheidsbedryf in die rustige, landelike Herold.
Neil Carelse en Bul Apollis, oftewel 'Die King en Die Khoi', het 'n rukkie gelede die gulde geleentheid aangegryp om kragte saam te snoer en die ou koshuis op Herold te omskep in 'n restaurant en sentrum waar gaste bederf kan word met 'n strelende kruievoetbad en kruietee.
'n Bekendstelling is Dinsdag vir die media en amptenare van die Tuinroete- en George-toerismekantore gehou. Gaste kon Die King se kookkuns en Die Khoi se voetbad en kruietee eerstehands in die geskiedkundige ou gebou ervaar.
Besoekers kan ook 'n aantal kunswerke van Anthony Noble in een van die vertrekke bewonder en daar is 'n werkkamer vir kuns- en handwerk van mense uit die omgewing. 'n Aantal suksesvolle musiekgeleenthede is reeds hier aangebied, waarvan die mees onlangse 'n saksofoonfees. Volgens Die King het hulle reeds hul eerste 1 000 gaste onthaal.
'Die King' is 'n naam wat hy gekies het weens sy voorliefde vir alles wat koninklik is. Hy het ook 'n "troonkamer" ingerig waar sy koningsgewaad en troonstoel staan.
'Die King', Bul Apollis, doen spyseniering en geleentheidsbeplanning. Hy nooi besoekers om sy kookkuns op Herold te kom beproef. Foto's: Alida de Beer
Die King en Die Khoi se aanbieding is 'n welkome toevoeging tot die Herold Meander-projek wie se eienaar, Theo Adams, 'n visie het vir 'n oplewing in die klein dorpie deur middel van agri- en ekotoerisme, agriverwerking, kuns en kultuur, en die bewaring van die omgewing se erfenis en natuurlike omgewing.
Kyk 'n video hieronder:
Buiten die koshuis is daar ander verlate geskiedkundige geboutjies wat moontlik in die toekoms opgeknap sal word om onder meer as 'n museum en natuurlike-genesingsentrum te dien.
Donald Harker, voormalige biskop van die Anglikaanse kerk in George wat die bekendstelling waargeneem het, het gesê die twee entrepreneurs bied hier die ideale geleentheid aan mense wat vir 'n wyle aan die stad se gejaag wil ontsnap. Hy het Apollis se verhaal vertel wat 15 jaar gelede as petroljoggie by 'n vulstasie in George begin werk het waar hy (Harker) 'n gereelde klant was.
'n Heerlike pannekoek met vars vrugte, beskuitjiekrummels en suiker is voorgesit as 'n lusmakertjie vir Die King se kookvernuf.
Uit oor en weer geselsies tussen die twee het die biskop bewus geword van Apollis se droom om eendag 'n sjef te word. Hierdie kontak het Apollis se lewe ingrypend verander, want hy het uiteindelik danksy 'n liefdadigheidsfonds van die gemeente sy sjefopleiding ontvang.
Carelse, 'n kampvegter vir die regte van inheemse mense, is bekend is vir sy uitgebreide kruiekennis wat hy al in boekvorm uitgegee het.
Harker het gesê hy lewer 'n groot bydrae om die kultuur van die streek se mense weer op die voorgrond te plaas.
'Die Khoi', Neil Carelse, se voetbad en kruietee is 'n sensoriese belewenis.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'