GEORGE NUUS - Die Van der Ross-familie van Blanco was verslae ná hul pa, Jannie van der Ross (82), wat nege jaar gelede in die Blanco-begraafplaas begrawe is, se graf gister, Woensdag 27 November, oopgegrawe gevind is.
Die voorval is deur ‘n familielid, wat die begraafplaas in Maitlandstraat besoek het, aangemeld.
Bevestiging vanaf die polisie word nog afgewag oor die kis en Van der Ross se oorskot, en of dit nog ongeskonde is. Hy en sy vrou is langs mekaar begrawe. Iets wat na die deksel van die kis en die kis se handvatsel gelyk het, het bo-op die grond langs die graf gelê. Die blomme en grafsteen is ook verwyder.
Die polisie is Woensdag na die toneel ontbied waar hulle ondersoek ingestel het en sperband om die toneel gespan het.
Volgens die familie is die graf egter vanoggend, Donderdag 28 November, nog dieper uitgegrawe "asof iemand vir iets soek", en die sperband was afgeskeer.
Met George Herald se besoek aan die toneel was die familie besig om vir die munisipaliteit te wag vir sand om die graf weer toe te gooi. Hulle is egter na die Tuinroete-distriksmunisipaliteit vewys waar hulle glo moet aansoek doen vir forensies om die graf oop te grawe en te inspekteer.
Beboste begraafplaas
‘n Gemeenskapsleier, Lorraine van Schalkwyk, vertel hoe die oorgroeide en beboste begraafplaas 'n nes vir kwaaddoeners is. Hulle kom kruip hier weg met hulle gesteelde goed en hulle drugs," sê sy.
"Kyk, sien jy daai skollies met die rugsakke wat daar uit die bosse kom," wys sy terwyl ons by die toneel staan.
"Hulle loop nou want die polisie is te besig hier [met die toneel]."
'n Media navraag is aan die polisie en die munisipaliteit gestuur rakende die opgegraafde graf en die ruig beboste area binne die begraafplaas. Hulle terugvoer word binnekort verwag.
Digte bosse is besig om die Blanco-begraafplaas oor te neem.
Grafte word gevandaliseer en kriminele kruip in die bosse weg. Foto's: Kristy Kolberg‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’