TUINROETE NUUS - Die dertiende Buffalo Rally is die afgelope naweek in Mosselbaai aangebied. Vanjaar het daar net meer as 5 000 motorfietsryers deur die kampterrein se hekke gestroom vir die naweek se opwinding, pret en vermaak.
Deelnemers het van sover as Kanada, Brittanje, Uganda en buurstate soos Namibië, Zimbabwe en Botswana gekom.
30ste Buff
Vir vyf deelnemers sal die inskrywingsfooi na volgende byeenkomste geen hoofbrekens besorg nie aangesien elke Buffer wat 30 byeenkomste bywoon, vrygeskeld word daarvan. Vanjaar het André van Heerden, Philip Koekemoer, Wallie Brandt van die Nomads, Deon Slabbert en Mannetjie Jacobs die mylpaal bereik.
Die omgewing se jongklomp - en talle van die ouer garde - het oudergewoonte die sypaadjies langs die sirkelroete wat die massarit deur die dorp se strate gevolg het, van vroeg reeds op Saterdagoggend volgestaan.
Vanjaar het die uitvoerende burgemeester, Harry Levendal, en munisipale bestuurder, adv. Thys Giliomee, as gaste van die Nomads op die voorste twee motorfietse van onderskeidelik Wallie Brandt en Luderick Jacoby die optog gelei.
Oudergewoonte was die skouspel ook nie net tot die massarit beperk nie, maar die gratis toertjies van die Le Riche-broers en die Concourse D'Elegance by die Garden Route Casino het heelwat geleentheid gebied vir menige entoesias om hulle aan die motorfietse en motorfietsryers te verkyk.
Die groot kontantprys van R135 000 is ingepalm deur Gert van Pretoria - wat nie sy van verstrek het nie.
Hy is met sy groot prys, wat ook 'n ruim akkommodasie-borgskap ingesluit het, gelukgewens deur Mej. Buff, Charnelle Engelbrecht van Plettenbergbaai.
Haar prinsesse is Lorraine Roux en Penny Burger.
Deelnemers en Mosselbaaiers met wie die Mossel Bay Home Ads News, George Herald se susterspublikasie, gesels het, was dit eens: "Ons sien uit na die Buffalo Rally in Mosselbaai in 2019."
Elize van der Merwe van George se eerste Buff. Foto's: Nickey le Roux, Mariska Visagie, Grey Stopforth en Elaine van der Toorn
Angus McNish ondersteun Kansa.
Green Ninja by die Concourse.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'