Update
GEORGE NUUS - Borgtog vir die moordbeskuldigde van Delvillepark, Warren Appels (46), is vroeër vandag, Donderdag 28 April, in die George-landdroshof geweier. Appels word daarvan aangekla dat hy sy vriendin, Andresia Alaart (30) in Maart vermoor het.
Die hof het sy borgtog geweier omdat hy as ‘n gewelddadige persoon beskou word wat in alle waarskynlikheid die veiligheid van die publiek in gedrang kan stel, met die getuies kan inmeng en moontlik sy verhoor kan ontduik. Daar was ook 'n gemeenskapspetisie teen borgtog vir hom.
Landdros Thiloshnie Govendor het gesê geslagsgebaseerde moord en geweld word in ‘n baie ernstige lig beskou en dat die tipe misdade toeneem.
Appels se formele borgtogaansoek sou reeds op Vrydag 8 April plaasgevind het, maar dit is weens verskeie redes uitgestel.
Hy is Saterdag 26 Maart op die toneel in Llamastraat, Delvillepark, in hegtenis geneem ná die polisie omstreeks 07:00 ontbied is.
Die oorledene se liggaam is met veelvuldige beserings aan haar gesig en liggaam op 'n matras in die leefarea in Appels se ouerhuis gevind. Die nadoodse ondersoek het bevestig dat haar dood veroorsaak is deur houe met ‘n stomp voorwerp teen haar kop. Benewens die bloed in die leefarea, is daar ook bloed in die gang en in 'n slaapkamer gevind.
Die ondersoekbeampte, a.o. Josh Rondganger, het borgtog teengestaan en gesê nie net vrees Appels se neef wat saam met hom in dieselfde huis bly, vir sy lewe weens vorige geweldadige voorvalle nie, maar dat Appels se lewe ook in gevaar kan wees indien hy vrygelaat word.
Tydens Rondganger se getuienis het die hof gehoor dat Appels, sy neef, die oorledene en nog 'n vriend die aand van die voorval saam by hul huis gedrink en gekuier het.
Appels en die oorledene het glo begin stry. Ná hulle baklei het, het hulle glo rustig verder gekuier. Later is die kuiergas weg en het almal glo gaan slaap. Die volgende oggend kon die twee neefs nie die oorledene wek nie, en het hulle die polisie ontbied.
Appels het geen hangende sake teen hom nie, maar wel agt vorige veroordelings van dronkbestuur.
Eric Mthyobile tree op vir die staat en Clayton Samson van Samson & Winston-prokureurs, verteenwoordig die beskuldigde.
Vorige artikels:
- Hoe beslis vandag oor borgtog in moordsaak
- Aansoek vir borgtog weer uitgestel
- Moordbeskuldige se borgtogaansoek weer uitgestel
- Borgtogaansoek vir moordverdagte môre
- Borgtogaansoek van Delvillepark-moordverdagte uitgestel na volgende week
- Moordverdagte môre in hof
- Kêrel verskyn in hof vir vriendin se moord
- Man (64) vas vir vriendin se moord
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'