GEORGE NUUS - Uitdagings is daar elke dag, sê Robert Grootboom, hoof van Dellville Park Primêr. Hy en sy span het regdeur grendeltyd uitdagings gehad en hard gewerk om nie net kos aan leerders te voorsien nie, maar ook na hulle welstand om te sien. Hy ken die gemeenskappe waaruit sy ‘kinders’ kom en dus weet hy dat nie almal van hulle kon byhou met die akademiese werk nie.
“Die wat wel internet of data het, het mooi saamgewerk, maar die res is nou twee maande agter.”
Grootboom het ook op Maandag 1 Junie, sy skool vir leerders oopgemaak, al is hulle steeds besig om ‘n paar goed in plek te sit. Hy en sy span staan en wag nie vir die department om dinge te laat gebeur nie. Hulle was die afgelope tyd fluks besig met hul eie inisiatiewe en het self gekyk hoe hulle die skool kan skoonmaak, voorraad kan kry en planne in plek gesit vir wanneer leerders terugkom.
Dellville Park het ook besluit dat hulle onderwysers eerder klasse gaan ruil om minder kontak tussen leerders te hê. “Ons gaan die leerders toelaat om vyf minute in die klas te sit en eet, voor hulle uitgaan vir pouse. En my hele personeel gaan terreindiens doen.”
Hulle is reeds besig om die toilette uit te verf en twee onderwysers per badkamer is aangestel om 'n oog te hou.
Die hoof sê hy ken sy skoolgemeenskap en moet sien dat almal dieselfde behandeling kry, maak nie saak waar hulle bly nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'