GEORGE NUUS - 'n Deelnemer aan die jaarlikse Outeniqua Wheelchair Challenge (OCC) is Saterdagoggend lig beseer.
Die deelnemer, Ernie Hodgson van Somerset-Wes, was tydens die wedren in 'n ongeluk waarby 'n voertuig betrokke was. Sover bekend is dit die eerste keer dat 'n deelnemer tydens die geleentheid in 'n ongeluk betrokke was.
Dit was Saterdag die 18de keer dat die geleentheid gehou is.
Sowat 600 deelnemers van al nege die provinsies en ook lande soos Namibie, Zimbabwe en Ghana het deelgeneem. Vanjaar was die eerste keer dat dit by die Carpe Diem skool gehou is.
Hodgson het na die voorval gesê hy het aan die 21 km wedren deelgeneem.
Nadat hy die wedren voltooi het was hy nie seker waar om te draai nie. Hy het plek gesoek om te draai.
Hy het toe voortgegaan en ook die 42 km wedren aangedurf. Naby die Mediclinic in George se middedorp was daar 'n motor wat die pad wou kruis. In daardie stadium het Hodgson sowat 40 km/ph gery. Hy het per ongeluk met die motor gebots.
Hy is lig beseer en na 'n plaaslike hospitaal geneem. Na behandeling is hy ontslaan. Dit was niks ernstig nie.
Hy het benadruk dit was suiwer 'n ongeluk en dat hy die OCC-geleentheid baie geniet het.
In die verlede het hy al verskeie kere aan die geleentheid deelgeneem.
Alewijn Dippenaar, die geleentheidsdirekteur, het die voorval bevestig .
Volgens hom is Hodgson net lig beseer. Hy is reg en kon tydens die prysuitdelingsgeleentheid self sy medalje op die verhoog in ontvangs neem.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'