GEORGE NUUS - Van 'n klein seuntjie, wat saam met sy Waboomskraal-maatjies rugby in die tuin gespeel het terwyl hulle vir oom Fanie se skoolbus gewag het om hulle Laerskool Herold toe te neem, tot 'n uiters suksesvolle boer wat sy pa, Deon, en sy wyle oupa, oom Sakkie, sou trots maak.
Dean Barnard (40) van Oppie Plaas-boerdery op Waboomskraal is Woensdagaand, 12 Junie, tydens 'n spoggeleentheid in die Paarl as Agri Wes-Kaap Santam se Jongboer van die Jaar aangewys.
Dean is 'n oudleerder aan Laerskool Herold en het sy hoërskoolloopbaan by Hoër Landbouskool Oakdale voltooi. Hy boer al 19 jaar saam met sy pa en het sowat agt jaar gelede die leisels oorgevat.
Maar boerdery loop sterk deur sy are van die dag wat hy gebore is en van kleins af het hy tyd op die lande saam met sy pa, ooms en oupa, wat van toeka af al op Waboomskraal boer, spandeer.
Barnard het ook van jongs af besef wat dit behels om suksesvol op kleinskaal te boer.
Talle droogtes, vloede en brande het Waboomskraal in die verlede getref, maar nés sy voorvaders, wat in dié hopvallei geboer het, staan hy op en boer voort.
Vandag boer dié pa van twee suksesvol met hop, pruime, amandels en pekanneute.
"Ek het altyd gedink om op 45ha te boer is té min en té klein om iets mee te maak. Ek wil vir die jong boere sê: Of jy nou 45 ha of 6 ha het, daar is beslis plek vir jou in die landboubedryf," sê Dean.
Hy was onlangs ook op George Herald se voorblad met 'n bielie van 'n Autumn Treat-pruim, wat hy glo die Guinness-rekordboeke gaan haal. Die huidige rekord staan op 354,37g.
In die nabye toekoms wil Dean graag sy pruimboerdery verder uitbrei en 'n pakstoor oprig wat hy graag ook aan ander boere beskikbaar wil stel.
Barnard en sy gesin spog met die bieliepruim wat hulle vir die Guinness-rekordboeke ingeskryf het. Van links is Wian (11), Barnard, sy vrou Carla en hul dogter Dianca (13).
"Die Here het my gekies om te boer. Daar is elke jaar ander uitdagings. En met die beperkte hoeveelheid grond tot my beskikking, moet ek intensief boer en elke besluit laat geld."
Dean sal later vanjaar as die Wes-Kaapse kandidaat aan die Nasionale Jongboer van die Jaar-kompetisie deelneem.
Inus Oosthuizen, sameroeper van die beoordelingskomitee, het gesê elke kandidaat wat vir die kompetisie inskryf, het 'n ongelooflike storie en is 'n voorbeeld en inspirasie vir elke boer in Suid-Afrika. Die kompetisie gee almal kans om te wen. "Maak nie saak hoe groot jy boer nie, jy kan wen," het Oosthuizen gesê.
Oppie Plaas-boerdery is een van slegs sewe hopboerderye in Afrika, wat onder meer hop vir die brou van Castle en Castle Lite lewer.
Dié boerdery is ook die laaste 15 jaar onder die voorste drie hopprodusente.
Dean sê sedert hy by sy pa oorgeneem het, het hy sekere veranderings aangebring waaronder nuwe besproeiingstegnologie vir doeltreffender watergebruik wat meer ekonomies is. Hy het ook nuwe pruim-en amandelboorde aangelê en 'n nuwe hopuitbreiding aangeplant.
Wanneer hy nié boer nie, geniet Barnard dit om gholf te speel, jag, en tyd saam met sy gesin deur te bring.
"Veral die kinders se sportgeleenthede is 'n groot hoogtepunt vir my. Ek is een van die pappas wat nie kan stilstaan langs 'n sportveld nie," lag hy.
Dean (regs) en sy pa Deon boer al vir baie jare saam.
Dean Barnard en sy seun Wian in een van die pruimboorde op sy plaas.‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’