Warning: Graphic content
GEORGE NUUS - 'n Voorval van dieremishandeling word deur die Tuinroete-DBV ondersoek, ná 'n siek en brandmaer hond van Parkdene na bewering vir etlike weke aan 'n ketting moes ly vóór die eienaars die DBV gekontak het.
Volgens die DBV se Amber du Preez, is hulle Dinsdag 5 Julie deur die hond se eienaars gekontak om die dier te kom optel.
"Die eienaars het ons telefonies gekontak om ons mee te deel dat hulle 'n siek hond op hul eiendom het wat hulle wil hê ons moet kom haal," sê sy.
Inspekteur Estelanie van Wyk het op die klagte gereageer, maar wat sy met haar aankoms gesien het sal vir ewig in haar gedagtes bly.
Die hond was slegs 'n geraamte van die rottweiler wat hy veronderstel was om te wees. Hy was verwaarloos, verhonger, brandsiek en te swak om sy kop op te tel. Ná 'n mediese ondersoek deur die DBV se veearts, is besluit om hom van sy lyding te bevry en hom uit te sit.
"Daar was geen meer hoop vir die arme dier nie. Ons harte is absoluut stukkend as ons dink aan die lyding wat hierdie arme hond moes verduur. Niemand weet hoe lank hy in daardie siek, verwaarloosde toestand aan 'n ketting vasgebind was en vir dood gelos is nie," sê Du Preez.
Die DBV vra dat lede van die publiek names die diere daar buite praat.
"Indien jy enige vorm van dieremishandeling sien, skakel asseblief dadelik ons kantoor. Geen dier behoort so te ly nie," sê Du Preez.
Die Tuinroete-DBV kan tydens kantoorure by 044 878 1990 gekontak word. Na ure is hulle vir noodgevalle by 082 378 7384 beskikbaar.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'