Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die straatmusikant Daniël Williams, maak nou musiek met sy eie kitaar. 'n Onlangse storie in George Herald het 'n tiener van Hoërskool Outeniqua se hartsnare geroer en het Liam van der Bergh (16) besluit om vir Daniël 'n kitaar te skenk.
Daniël hou hom en sy gesin aan die lewe met sy talent en tot onlangs 'n geleende kitaar.
Liam vertel dat hy diep geraak was toe hy die artikel in die George Herald sien oor Daniël wat so tevrede 'n lewe maak as straatmusikant. Wat hom die meeste geraak het, is dat Daniël nie gekla het nie en die beste gemaak het met wat hy het. "Ek het 'n kitaar gehad wat ek nie meer gebruik het nie en het besluit dat Daniël meer daarmee kan doen as ek," sê hy.
Daniël was sprakeloos toe Liam die kitaar aan hom oorhandig. Sy eerste woorde was: "Nou hoef ek nie meer die kitaar met 'n tang te stem nie." 'n Bewoë Daniël het vir Liam die Here se seën toegewens.
Daniël se eerste tokkel op die kitaar was 'n klassieke nommer waarna hy, ten spyte van sy verkoue, uit volle bors Have you ever seen the rain begin sing het.
Daniël Williams, straatmusikant, sing uit volle bors op sy nuwe kitaar wat Liam van der Bergh vir hom geskenk het. Foto's: Wessel van Heerden
Daniël sê dat dit nie altyd maklik is nie. "Daar is besighede wat my wegjaag as ek daar wil speel, maar gelukkig is daar besighede wat my met ope-arms ontvang en toelaat om by hulle te speel. Baie keer lyk dit of mense stry, maar as hulle my hoor sing raak hulle sommer baie gelukkig.
"Dit inspireer my om aan te gaan. Nadat die video en artikel oor my geplaas is, groet baie meer mense my nou. Ek voel sommer soos 'n ster," lag Daniël met sy groot glimlag.
Kyk 'n video hieronder:
Lees 'n vorige artikel: Daniël sing halleluja
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'