Tydens vandag se raadsvergadering het die DA-beheerde raad dit net-net reggekry om met die agenda voort te gaan nadat die ANC-raadslede en die PBI uitgeloop het oor ‘n verskil oor die status van die vergadering. Die ANC en Virgill Gericke van PBI het volgehou dit is ‘n gewone raadsvergadering terwyl die DA gesê het dis ‘n buitengewone vergadering.
Jaco Londt, die streeksbestuurder van die Wes-Kaap: Oosstreek het aan George Herald gesê Standers is steeds burgemeester, maar sy eie DA-koukus het gebruik gemaak van die interne prosedures van die party om hom te laat verwyder. “Die status quo staan, maar die interne partypolitiek proses se wiele het begin draai.”
Hy het gesê Standers se toekoms hang nou van die DA Fedex af. “Fedex sal spoedig die DA-koukus op George van ‘n antwoord voorsien.”
Standers het aan George Herald bevestig dat hy reeds Maandag verlede week ‘n brief van die DA-koukus ontvang het waarop hy binne 24 uur moes antwoord. Standers sê die DA het nie die regte prosedures gevolg nie en dat die brief dus ongeldig is. Hy het egter bevestig dat hy dit wel beantwoord het. Standers sê hy glo dat die hoofsweep van die George-raad, Flip de Swardt agter die “komplot” om hom uit te kry sit. De Swardt het gesê die aangeleetheid is vertroulik. “Dit is ‘n party politieke aangeleentheid. Ek het namens die DA in George se uitvoerende koukus opgetree.”
Standers het nie gister se vergadering bygewoon nie - glo weens siekte - en onderburgemeester Daniël Maritz neem in sy plek waar.
Londt sê Standers het gevra dat Maritz vir hom instaan.