GEORGE NUUS - 'n Groep plaaslike inwoners gaan hierdie jaar aansoek doen dat Cradockpiek se naam verander word.
Sydney Opperman van Pacaltsdorp verduidelik waarom.
In die lugfoto kan gesien word dat Cradockpiek, die hoogste piek in die /Haoteniqua-* (Outeniqua-) berge, direk noord van die Boom van Herinnering geleë is, wat die sentrale punt van Hoogekraal (Pacaltsdorp) was. Die huidige George-museum is op dieselfde ware noord-suid-lyn geleë.
In antieke gelowe het elke spesifieke rigting 'n godsdienstige betekenis gehad: Noord - ewigheid; suid - geregtigheid; oos - mag; wes - kennis.
Die plasing van Hoogekraal presies suid van Cradockpiek was beslis nie 'n vloekskoot nie. Geregtigheid was die grondslag van Kaptein Dikkop se bewind.
Die posisie van die eertydse drosdy (vandag die museum) onderstreep dié waarheid. Die drosdy, wat gedurende 1812 tot 1815 gebou is, was die woning van Van Kervel, die destydse landdros wat 'geregtigheid' moes najaag. Of hy dit gedoen het, is 'n ope vraag.
Wie sou die aanbeveling gedoen het vir die posisie waar die drosdy opgerig moes word? Kaptein Dikkop is in 1816 oorlede.
Die hoogste piek van die /Haoteniqua (Outeniqua) was dus 'n 'Rigtingberg' ('n dik/Gare.b, direction mountain) vir die kaptein en sy volgelinge. Dit is die kaptein se passie rondom die ewigheid wat hom die bynaam 'Dikkop' besorg het.
Volgens Sidney Opperman was die plasing van Hoogekraal presies suid van Cradockpiek beslis nie 'n vloekskoot nie.
Die besluit om dié hoogste bergpiek na John Cradock te vernoem, kan as niks anders as 'n verdere onderdrukkende belediging vir die inheemse mense van hierdie omgewing beskou word nie.
Op 1 November 1809 het John Cradock as 'n goewerneur aan die Kaap 'n proklamasie uitgevaardig wat enige vrye beweging van die Otentottu (Hotentotte) aan bande gelê het. Met daardie proklamasie het Cradock letterlik op ons voorouers se 'koppe kom sit'.
Met die huidige posisie van 'Cradockpiek' wat bo die /Haoteniqua (Outeniqua) uittroon, bly dit 'n onaanvaarbare uitdrukking van oorheersing!
Cradock het nou lank genoeg 'op ons koppe bly sit'. Die naam van die hoogste piek moet plek maak vir die oorspronklike naam dik/Gare.b.
Die woord 'dik' is nie Afrikaans in hierdie woord nie. Dit is 'n woord uit Goa (antieke naam vir Indië) en beteken 'rigting'. Rondom die heilige berg Arunachala in Indië is 8 'dik lingams' op al die windrigtings geplaas. Die struktuur op die sogenaamde 'kerktorings' wat noord, suid, oos en wes aandui, se oorsprong is afkomstig van dieselfde godsdienstige praktyk en die 'haan' ('cock' - slang vir lingam wat fallus beteken) onderstreep die waarheid.
Ons sal vanjaar by die Wes-Kaap Geografiese Namekomitee aansoek doen vir 'n naamsverandering.
Sydney Opperman, Lynxstraat 14, Pacaltsdorp, 083 378 4237
* Die uitspraak van die naam /Gare.b: 'Kareb met die / as 'n dentale klapklank soos IsiXhosa-sprekers se klapklank vir die letter c byvoorbeeld in Cele van Bheki Cele.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'