GEORGE NUUS - Task Eden in George berei tans voor vir proewe met die tweede mRNA-entstof (benewens Pfizer) wat in Amerika ontwikkel is en wat teen Covid-19 gebruik word. Dit is tans nog nie beskikbaar in Suid-Afrika nie.*
Dit het goedkeuring vir noodgebruik in die pandemie van die Amerikaanse FDA (Food and Drug Administration) ontvang.
Volgens Melissa Mitchell, Task Eden se uitvoerende hoof, sal die proewe vir 'n jaar duur saam met opvolgbesoeke van die deelnemers.
"Die entstof word hoofsaaklik op mense bo 18 getoets wat met MIV leef, maar daar is ook 'n kleiner groep vir mense met komorbiditeite en swanger vroue," sê Mitchell.
Die proewe sal hoofsaaklik op mense in die George-omgewing gedoen word aangesien opvolgbesoeke nodig is.
"Enige mediese effek van die entstof word gerapporteer om te sien of dit verband hou met die entstof. Ons werk onder die mediese oorsig van die ontwikkelaar om te kyk na die effektiwiteit van die entstof en ook na moontlike newe-effekte. Dit is 'n oop-etiket-studie."
Task Eden is ook besig met proewe op Johnson & Johnson se Janssen-entstof (J&J) wat eintlik 'n substudie vorm van die Sisonke-proewe waar-onder gesondheidswerkers deur die gesondheidsdepartement ingeënt is. Vir hierdie proef spuit Task Eden die deelnemers self in.
"Die Sisonke-substudie is meer van 'n studie in die tradisionele sin van die woord. Dit is steeds gesondheidswerkers wat betrokke is, maar die verskil van die hoofstudie is dat mense voorheen self newe-effekte aangemeld het, maar nou volg ons mense op deur hulle na 'n week, twee weke, drie weke, ses weke en ses maande weer te sien. Ons trek ook bloed en toets dan vir teenliggaampies. Die doel is dus om te sien hoe die liggaam reageer," verduidelik Mitchell.
Werwing word tans gedoen deur middel van 'n groep gemeenskapswerkers en sosiale media. Belangstellendes wat wil deelneem, kan Task Eden kontak.
Mitchell sê dis vir haar 'n groot voorreg om deel te wees van die studies. "In 'n tyd van onsekerheid en baie hartseer, het ons die voorreg om daadwerklik aan die probleem te werk. Ek hoop en vertrou dat dit 'n verskil sal maak in die breër gemeenskap.
Die resultate wat ons kry van die mense wat aan die studies deelneem, het 'n invloed op die wêreldwye gebruik en ontwikkeling van hierdie middels. Die mense van die Tuinroete word dus deel van geskiedenis wat gemaak word."
* Die naam van die entstof mag weens professionele redes nie genoem word nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'