GEORGE NUUS - Die Conville-gemeenskap is moeg vir misdaad, verál geweldsmisdaad in hul woonbuurte. Om hierdie rede het die Conville-buurtwag 'n inisiatief begin om hul omgewing te beveilig.
"Misdaad seëvier hier by ons," sê Conville-buurtwag se voorsitter, Rudy Lewis.
Lewis het Maandagaand, 21 Februarie omstreeks 19:00, saam lede van Fidelity ADT, buurtwagleiers van Proteapark, Le Vallia, Parkdene en Borcherds, asook lede van die gemeenskapspolisiëringsforum in Conville saamgetrek om die uitdagings wat hulle in die gesig staar, aan te spreek.
Hulle het ook met lede van die gemeenskap oor die probleme gesels. Dié insiatief, saam met gereelde patrollies, sal na die ander woonbuurte en Conville ook versprei word.
"Ons moet die gemeenskap betrek, mobiliseer en organiseer. Ons is moeg vir misdaad wat nou reeds op skoolvlak kop uitsteek," sê hy.
Verder wil hulle ook die skole nader en beveilig. "Ons kom agter dat daar baie minderjarige kinders by geweldsmisdaad in die omgewing betrokke is."
Die groep buurtwag- en GPF-leiers het Maandagaand in Conville bymekaargekom in 'n poging om misdaad in hul gebied te beveg.
Dié groep doen elke naweek gesamentlike sigbare patrollies in hul verskeie gebiede in 'n poging om misdaad te bekamp, maar Lewis sê hulle het beslis die gemeenskap se hulp ook nodig.
"Ons versoek mense van die gemeenskap om by ons aan te sluit en hande te vat om die inisiatief te dryf. Ons het die gemeenskappe nodig om saam met ons op te trek en betrokke te raak om misdaad, saam met ons, in hul eie gebiede te bekamp," sê Lewis.
Belangstellendes kan Lewis by 061 977 6098 kontak.
Die groep is vasbeslote om hul deel te doen. Foto's: Kristy Kolberg
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'