GEORGE NUUS - Maandag 6 Mei was geen gewone dag vir die Bloemfonteinse chirurg dr. Deon Menge nie.
Ná vyf operasies vroeër die dag, is hy op baie kort kennisgewing gekry om aan te sluit by 'n reddingspan, wat ontplooi is na die toneel van die Neo Victoria gebou in George, wat 14:09 ineengestort het.
Vriende en kollegas het ingespring om Menge se klere en toerusting by sy woning te gaan haal sodat hy dadelik 'n vlug Johannesburg toe kon haal.
Menge is lid van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (Sama) se Vrystaat-tak, en ook lid van die Suid-Afrikaanse Soek-en-Reddingsorganisasie (Sarza), was deel van die Sarza-span wat bystand verleen het tydens die reddingsoperasie.
Aanvanklik is berig 75 mense is onder die puin vasgekeer, maar dié syfer is later opgedateer tot 81.
George susterskoerant, Mossel Bay Advertiser, het die geleentheid gehad om met Menge te kon gesels oor dit wat hy op die toneel ondervind het.
Menge was al by twee geleenthede Botswana toe vir reddingsoperasies en was ook betrokke toe die Jagersfontein-damwal in die Vrystaat gebreek het.
Hy benadruk egter dat hy nie namens Sarza kan praat nie en dit wat hy in George ondervind het, sy eie weergawe is van dit wat hy op die toneel ondervind het.
Op pad na lughawe
"Ek het sommer op pad na die lughawe in die voertuig klere aangetrek. Alles was klaar gereël," vertel hy. "Ek is eers na Johannesburg gevlieg waar ek en die ander Sarza-spanlede die vlug gehaal het na George."
Volgens Menge was hulle toegelaat om eerste van die vliegtuig af te klim, hul bagasie te kry en tot hul verbasing, het verkeerspersoneel gereed gestaan en hulle is direk na die toneel in Victoriastraat geneem.
Eerste ses ure
"My eerste ses ure op die toneel was uitdagend. Die toneel is in ses sones opgedeel. Elke deel het 'n Sarza-lid saam met al die ander professionele rolspelers asook vrywilligers diens gedoen in skofte. Ek, as die enigste traumachirurg van die Sarza-lede, kon vrylik beweeg tussen die ses sones," vertel Menge.
Volgens Menge het hulle die eerste ses ure, wat hy aan diens was, drie persone lewend uitgehaal. "Ek is in 'n stadium 'n paar verdiepings na ondertoe om 'n pasiënt te stabiliseer. In 'n ander geval is ek in 'n 30 m-lange tonnel in.
"Die hartseer en tragiese het ons ook gesien. Lyke is ook gevind, maar eers gelaat om die wat lewe, eerste te red."
Snuffelhonde se hulp was van besondere waarde. "Hulle het vir ons aangedui of die persoon onder die betonblaaie lewend of dood was.
"Dan is ons afgesak om die pasiënt te stabiliseer, mediese drups op te sit en die nodige behandelings te gee voor hulle na die hospitaal geneem is."
"Soms het dit ure geneem om die pasiënt na die oppervlak te bring," vertel hy. "Ongelukkig moes 'n vrou se arm op die toneel geamputeer word soos wat ons in die teater sou gedoen het, maar as die arm onbruikbaar is, spaar dit ongelooflik tyd en ander komplikasies as dit op die toneel gedoen kan word," sê Menge.
"Mens raak moeg, maar daaraan is ek gewoond. Wat erg is, is om middagete 01:00 in die oggend te geniet."
Dr. Deon Menge (heel regs), op die toneel van die Neo Victoria-ramp in George.
Lofprysing
Een ding wat Menge benadruk, is dat dit die eerste redding is waarby nooddienswerkers, die gemeenskap en almal betrokke so saamwerk met net een doel voor oë, redding. Hy vertel van die koeldrank, warm kos, lekkers, vrugte, koffie en water wat in oorvloed uitgedeel is en deur die gemeenskap en instansies geskenk is. Vlugte deur Safair was gratis, verblyf was gratis. Almal het soos een masjien gewerk. Self toe van ons Sarza-lede Turkye toe is ná die aardbewing, is hulle nie so goed behandel nie.
Op sy Facebook-blad het Menge die volgende gesê: "Dit was ongelooflik om deel te wees van uitmuntende vrywillige Suid-Afrikaners van verskillende organisasies vanoor die hele land, wat in George reddingswerk kom doen het.
"Ek het ongelooflik baie geleer oor verskillende fasette van reddingswerk en alhoewel hierdie baie verrykend was, het ek ongelooflik baie simpatie met die families wie se geliefdes oorlede of nog vermis is.
"Sterkte aan al my kollegas/nuwe vriende, wat nou huis toe gaan en met die trauma in hul koppe moet saamleef. Huil soveel julle moet, maar staan weer op en wees gereed vir die volgende ramp wat gaan tref."
Menge het verlede Vrydag, 10 Mei, teruggevlieg Bloemfontein toe.
Sarza
Sarza is afgelei van Search and Rescue ZA (Suid-Afrika). Lede is opgelei in 'n verskeidenheid van kernvaardighede en -vermoëns soos die vermoë om oral te ry, dag of nag, op ruwe terrein of op die pad, in konvooie of alleen, medies opgelei, helikopteroperasie kan uitvoer, oorlewingsvaardighede, touwerk, navigasie, kaartwerk, soek-en-redding, kommunikasie en bevel voer en beheer.
Sarza word verteenwoordig deur meer as 150 vrywilligers vanoor die hele land. Dit sluit provinsies soos Gauteng, Limpopo, Mpumalanga, Wes-Kaap en KwaZulu-Natal in, wat vrylik hul tyd en finansies gee om ons gemeenskappe te dien in die vorm van 'n vrywillige soek-en-reddiens.
Met geen staatsondersteuning, sorg elke lid vir hulle eie toerusting. Enigiemand wat kan help om hul hulpbronne aan te vul, veral ná die George-ramp al hul bronne uitgeput het, kan die Sarza Free State Facebook-blad besoek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’