GEORGE NUUS - Die krag van woorde kom soms uit die pen van 'n jong stem wat diep raak. Charné Potgieter, 'n gr. 9-leerder van Hoërskool Outeniqua, het onlangs eerste plek behaal in 'n Afrikaanse Week-skryfkompetisie met haar indrukwekkende brief getiteld, Waar woorde wakker word.
Met haar inskrywing het sy nie net die beoordelaars beïndruk nie, maar ook gewys dat die jeug se stem betekenisvol en vol insig is.
Waar woorde wakker word
Die wind het sag deur die bome gefluister toe Anna haar ma se laaste brief oopmaak.
Die papier was oud, die ink effens vervaag, maar die woorde het gebrand.
Elke letter 'n herinnering, elke sin 'n sny.
"Liewe Anna" het dit begin. As jy dit lees, het ek reeds my laaste asem uitgeblaas. Maar ek wil hê jy moet weet...ek het jou altyd liefgehad. Al het my dade soms anders gepraat."
Trane het begin stroom nog voordat sy verder kon lees. Haar ma was nie 'n vrou van baie woorde nie. Sy't gewoonlik in stilte gevoel, in oë wat afkyk, hande wat te lank werk. Maar hier, op hierdie enkele bladsy, het sy begin praat.
"Ek het gestry met myself. Ek het gefaal, meer kere as wat ek kon tel. Ek het liefgehad, maar nie altyd reg nie. Jy was my lig, maar ek het so dikwels in die donker gestap."
Anna kon haar ma se stem hoor-breek-breek, skraperig, maar opreg. Hierdie woorde was nie gemaak vir mooi nie, maar vir waarheid.
"Ek onthou die aand toe jy vir my gesê het jy wens jy was by 'n ander ma. Ek het gelag, buite, maar binne het ek gebreek. Want jy het net gesoek na n sagte plek. En ek was 'n muur."
Anna het haar hand teen haar bors gedruk, asof sy die pyn kon keer. Daardie aand het haar altyd spyt laat voel. Nou was dit anders...nou was dit 'n skeur wat nie geheg kon word nie.
"Ek skryf nie om verskoning te vra nie. Ek skryf omdat woorde soms alles is wat oorbly. Ek het nie altyd geweet hoe om vir jou te sê ek's lief vir jou nie. Maar elke oggend wat ek vir jou ontbyt gemaak het, elke aand wat ek vir jou deur die venster dopgehou het tot jy veilig by die huis was, dit was my manier."
Anna het haar oë gesluit. Die stilte om haar was swaar, maar die brief het haar ma se teenwoordigheid teruggegee...nie as die vrou wat altyd gehard was nie, maar as 'n ma wat probeer het.
"Ek hoop jy vergewe my. Ek hoop jy leef ligter as ek .En ek hoop jy gebruik jou woorde, moenie swyg waar liefde wag nie."
Toe die laaste sin gelees is, het Anna haar trane laat gaan. Nie van spyt nie, nie van skuld nie, maar van verstaan.
Soms is woorde al wat ons het. En soms is dit genoeg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’